GEORGE NUUS - Ondersteuners van SWD-rugby het Vrydagaand, 7 April, op Outeniquapark sommer twee keer vreugde beleef. Eers het die SWD o. 20-span Boland o. 20 met 30 - 27 geklop en 'n rukkie later het die SWD Arende die Boland Kavaliers met 28 - 27 die loef afgesteek.
Beide was naelbytstryde en die uitslae was tot die einde in die weegskaal.
Vir die Arende was dit 'n moet wen in hul tweede wedstryd van die eerste divisie van die 2022 Curriebekerreeks. Die span het net 'n week vroeër sy eerste wedstryd in vanjaar se reeks teen die OP Olifante met 15 - 34 verloor.
Tydens Vrydagaand se wedstryd het die Arende sommer gou gewys hulle is die keer daar om besigheid te doen. Uiteindelik het hulle vier drieë gedruk.
Die spelers het met selfvertroue gespeel en die tuisskare het saamgesels. In een stadium was die Arende selfs 20 - 3 voor. Op die paviljoene het SWD-ondersteuners al in daardie stadium seker begin dink die wedstryd is in die sakkie.
Die Kavaliers het egter ander planne gehad en teen rustyd was hulle gelykop met 20 elk.
'n Belangrike 40 minute het gewag en beide spanne het kliphard gespeel. Toe die eindfluitjie blaas was daar groot vreugde. Die Arende het wel met een punt gewen, maar 'n wen is 'n wen.
Die Arende op die aanval tydens die eerste helfte.
Shaun Raubenheimer, kaptein van die Arende, het op die veld aan George Herald gesê dit was 'n baie harde wedstryd. Die span het geleer uit sy nederlaag teen die OP Olifante en dinge het beter gegaan teen die Kavaliers.
Vir Anton Moolman was die uitslag 'n laat verjaarsdaggeskenk. Hy het Dinsdag 5 April verjaar.
Moolman het afgelope Maandag, 11 April, gesê die vaste fasette van die Arende het in veral die eerste 20 minute goed gewerk. In die tyd het die span drie keer agter die doellyn gaan kuier. Daarna het die Arende een of twee foutjies gemaak wat die Kavaliers kans gegee het om terug te kom in die wedstryd.
Hy het benadruk die oorwinning is 'n goeie begin. Dis goed vir die groep wat wys hulle kry resultate as hulle bymekaarstaan. "Hulle het die vrugte gepluk van die harde werk wat hulle die afgelope tyd ingesit het."
FOTOGALERY: Arende en die Kavailiers is 20-20
Moolman het gesê die span het in die tweede helfte 'n paar skoppe gemis. "Ons sal aandag aan ons lynstane en skoppe moet gee."
Onder diegene wat Vrydagaand se oorwinning gevier het was Hennie Baartman, president van SWD-rugby, Martin de Vos, spanbestuurder van die Arende en Raymond Strydom, lid van die unie se uitvoerende bestuur.
Na die oorwinning is daar 'n positiewe energie in die groep. Die span het reeds Maandag begin met voorbereidings met die oog op die volgende wedstryd teen die Luiperds op 22 April. Dis ook 'n tuiswedstryd.
Die komende naweek is 'n afnaweek en die span sal Maandag weer hul voorbereidings hervat vir die stryd teen die Luiperds. "Ons sien uit na die wedstryd."
Die vreugdevure het Vrydagaand na die Arende se oorwinning hoog gebrand. Hier is Shaun Raubenheimer, kaptein van die Arende, Anton Moolman, afrigter van die span en Clemen Lewis, voorspelerafrigter.
Die Arende se gelukbringer was ook by Vrydagaand se wedstryd.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'