RUGBY NUUS - Dat mense honger is vir opwindende en goeie rugby is die afgelope naweek op Outeniquapark bewys toe die New Dimension Sport Beat T20-rugbytoernooi met groot sukses aangebied is.
Altesame 12 spanne het Vrydag en Saterdag deelgeneem en uiteindelik het George-rugbyklub met die louere weggestap.
George-rugbyklub het Bridgton van Oudtshoorn in die eindstryd met 14 -5 geklop en sodoende met die eerste prys van R15 000 weggestap.
Bridgton as die naaswenners het R7 000 ontvang. Crusaders wat derde en Harlequins van Oudtshoorn wat vierde klaargemaak het, het onderskei-delik R5 000 en R3 000 ontvang.
Neville Avontuur, sameroeper van die toernooi, het Maandag gesê dit was geskoei op die beginsel van die sewestoernooi, maar die vyftienmankode is toegepas. Dit beteken daar was 15 spelers in elke span. Die wedstryde het 40 minute geduur - 20 minute aan 'n kant.
Volgens hom het klubs van oor die distrik deelgeneem. Dit was die sesde keer dat dit gehou is. Weens Covid-19 kon dit nie in 2020 en 2021 gehou word nie. Met vanjaar se toernooi was die organiseerders onderhewig aan Covid-19-regulasies en slegs 2 000 toeskouers is toegelaat. Hy het gesê vanjaar se toernooi was 'n groot sukses. Die eindstryd was 'n baie goeie en spannende wedstryd.
"Mens kon uiteindelik nie die verskil tussen die twee spanne sien nie. Dit is twee spanne wat in vanjaar se SWD-liga dopgehou moet word."
Die toernooi gaan beslis weer aanstaande jaar aangebied word. George-munisipaliteit was vanjaar betrokke. Samesprekings is met die munisipaliteit gevoer om te kyk of die instansie nie op 'n groter skaal betrokke kan raak nie. Die organiseerders sal ook graag meer spanne in aanstaande jaar se toernooi wil sien.
Dogterspanne
Altesaam vier dogterspanne het afsonderlik meegeding en teen mekaar gespeel. Dit was o. 16- en o. 18-spanne van Parkdene en Hoërskool George. Volgens Avontuur gaan daar gekyk word hoe die deel van die toernooi aanstaande jaar uitgebrei kan word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'