GEORGE NUUS - Onderkry bestaan nie in Gerhard Swarts (33), tegniese adviseur van die SWD Arende, se woordeskat nie.
Wanneer die Arende op Outeniquapark speel, sit hy in sy rolstoel langs die kantlyn in die noordoostelike deel van die veld en hou die spel met 'n arendsoog dop.
As tegniese adviseur is hy daarvoor verantwoordelik om 'n ontleding van die span en hul teenstanders in die wedstryde te maak. Die wedstryde word gewoonlik op video vasgelê. Die tegniese adviseur doen die statistieke van die spel en staan die spelers en afrigters by.
Hy beklee sedert Februarie die pos en is nou 'n bekende gesig tydens die Arende se tuiswedstryde. Hy is op sy pos langs die veld wanneer die Arende in die eerste divisie van die 2022 Curriebekerreeks speel.
Dis 'n lang pad wat Swarts tot hier in George gestap het. Hy was op sy dag self 'n belowende rugbyspeler en 'n blink toekoms is vir hom voorspel.
Op 15 Maart 2003 het sy lewe egter vir altyd verander. Hy het senter gespeel vir Hoërskool Kanonkop in Middelburg (Mpumalanga). Hy het sy nek tydens 'n losgemaal gebreek en is verlam.
Swarts het 'n idee gehad wat vir hom wag, want sy suster is verlam nadat sy en haar pa in 1998 in 'n motorongeluk betrokke was. Hul pa is dood in die ongeluk.
Swarts het na sy besering al gewys uit watter stoffasie hy gemaak is en teruggekeer skool toe.
Later het hy onderwys studeer en sy honneurs in sport en rekreasiebestuur aan die Universiteit van Pretoria behaal.
Hy was in die manskoshuis, Kiaat. In daardie stadium wou niemand die koshuis se o. 20-span afrig nie en Swarts het die uitdaging aanvaar. In 2012 en 2013 het die span die koshuisliga gewen.
Hy het ook by afrigting van skole- en klubspanne betrokke geraak en later ook by die afrigting van Tukkies se eerste span in die Varsitybeker-uitdaging.
In 2013 het die Valke hom genader en hy het die span se tegniese adviseur geword. In 2020 het Covid-19 gekom en hy was sonder werk.
Om die pot aan die kook te hou het hy aanlynonderwys begin gee. In 2020 het hy sy eggenoot, Jacqueline, 'n spraakterapeut van George, ontmoet. Hulle is op 1 Januarie vanjaar getroud.
Hy het nog altyd geweet hy wil by rugby betrokke wees. In Februarie vanjaar het die Arende hom genader en het hy die pos as tegniese adviseur in George aanvaar.
Hy benadruk dat in vandag se tye 'n span nie afgerig kan word sonder tegnologie nie.
Hy is betrokke uit liefde vir die spel. Rugby was vir hom goed. Natuurlik vra mense hom oor sy besering. Soms wil ouers by hom weet of hulle hul kinders moet toelaat om rugby te speel. "My advies is dat die kind self die geleentheid gegee moet word om te besluit. Daar is 'n risiko op die veld. Rugby is 'n kontaksport."
Swarts het baie lesse uit die ongeluk geleer. Dis nie aldag maklik nie, maar sy geloof in die Vader en die ondersteuning van sy vriende, familie en sy vrou dra hom.
"Daardie een stukkie gras op die veld is ons leeftyd op aarde. Die res van die veld is die ewige lewe. God gebruik 'n mens."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'