GEORGE NUUS - Verteenwoordigers van twaalf rugbyklubs in die SWD-rugbyunie het Vrydagaand, 23Mei, 'n onvergeetlike aand by die Wilderness Hotel beleef. Dit alles danksy hul nuwe borg, Chill Beverages, bekend vir hul Score-energiedrankie. Die geleentheid was 'n viering van die gemeenskap se liefde vir rugby, met 'n beduidende finansiële inspuiting en nuwe truie vir sekere klubs.
Die aand het 'n feestelike atmosfeer gehad, met spelers wat hul splinternuwe rugbytruie met trots ontvang het. Boonop het Chill Beverages die SWD-rugbyunie met R100 000 in kontant ondersteun, wat die unie se vermoë om plaaslike rugby te bevorder verder sal versterk.
Martin de Vos, verteenwoordiger van die unie, het sy opregte dank teenoor Chill Beverages uitgespreek vir hul ruimhartige bydrae en toewyding aan die sport.
Die akteur Moses Williams het die aand se verrigtinge as seremoniemeester gelei, en gaste het sy humor en sjarme terdeë geniet. Die geleentheid was nie net 'n viering van rugby nie, maar ook 'n kans vir klublede om te kuier, bande te smee en die gees van samehorigheid te versterk.
Benewens hul ondersteuning vir klubrugby, het Chill Beverages ook rugbytruie aan Laerskool Sedgefield se o. 11-rugbyspan geskenk.
Voor, van links is Jacques Thysse (Heidelberg), Quan Wildeman (Blanco), Brintly Bezuidenhout (Riversdal Blues) en Enver Venter (Bridgeton). Agter: Deon Stoffel (voorsitter van Evergreens-rugbyklub), Ben Brinkhuis (president van SWD-Rugbyunie), Gavin Schmidt (Chill Beverages: Score), Byron Engelbrecht (Groot-Brak), Morné Mkwayi (MicFin Barbarians), Rhupino Plaatjies (Harlequins, Oudtshoorn), Rochey Walters (Chill Beverages: Score) en raadslid Browen Johnson. Foto: Michelle Pienaar
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’