GEORGE NUUS - Die A-spanne van Evergreens en George-rugbyklub sal na verwagting volgende Woensdag, 21 Junie, teen mekaar speel.
Daar bestaan ook 'n moontlikheid dat Evergreens se ondersteuners gratis toegang tot die wedstryd sal kry.
Hierdie is die jongste ontwikkeling in die rugbydrama wat ontstaan het ná die beoogde klubwedstryd tussen die twee spanne op Outeniquapark wat Saterdagmiddag, 10 Junie, sou plaasvind, op die nippertjie uitgestel is.
Dit volg op die halfeindstryd tussen die SWD Arende en die Kavaliers wat vroeër op die dag plaasgevind het. Voor daardie wedstryd het die vrouespanne van die Arende en die Valke teen mekaar gespeel.
Asof die spanning voor die manswedstryd van die Arende nie vir genoeg drama gesorg het nie, was daar ook woelinge oor die geplande wedstryd tussen Evergreens en George. Hierdie wedstryd sou onmiddellik na die hoofwedstryd, omstreeks 17:00, begin.
Beurtkrag sou om 18:00 begin en dit blyk dat daar nie genoeg kragopwekkingsvermoë was om die ligte aan die gang te hou nie.
Verskillende opsies is oorweeg waarvan een was om die wed-stryd eers 20:30 te laat plaasvind. Die klubs kon nie tot 'n vergelyk kom nie en daar is besluit om die wedstryd uit te stel.
Talle ondersteuners van beide klubs was reeds by die stadion en het geen geheim daarvan gemaak dat hulle eintlik net vir die Evergreens/George-wedstryd gekom het nie. Hulle is egter meegedeel dat die wedstryd uitgestel is.
Vingers is oor en weer gewys en SWD-rugby was tussen die vure. Van die ondersteuners het selfs aangedui dat hulle hul toegangsgeld gaan terugeis.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby het Maandag 12 Junie gesê die gebeure was buite die unie se beheer. Aantygings dat SWD geld wou maak is nie waar nie. Vir die wedstryde waarin SWD-spanne betrokke was, was toegang gratis. Toeskouers moes wel betaal vir die klubwedstryde.
"Ons besef die ongelukkigheid van mense. Ons vra om verskoning vir mense wat te na gekom is. Wanneer die wedstryd wel plaasvind glo ek George sal toelaat dat toeskouers dit gratis kan bywoon."
Kobie Carelse, voorsitter van Evergreens, het gesê die klub het Maandag 'n skrywe aan die unie gerig. Die unie moet nou besluit wat gaan gebeur.
Perez Julyan, voorsitter van George, het gesê hul klub het die korrekte prosedure gevolg. Die klub het 'n voorstel gemaak dat die wedstryd op 21 Junie gespeel word. SWD-rugby sal daaroor moet besluit.
George was die gasheer en wanneer die wedstryd wel plaasvind sal Evergreens se ondersteuners toegelaat word om dit gratis by te woon. Ander toeskouers sal iets moet opdok om die uitgawes van die wedstryd te verhaal.
SWD-rugby baie ongelukkig
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het Maandag 12 Junie gesê hy het vroeër die dag 'n skrywe aan Saru gestuur waarin hy namens die unie sy ongelukkigheid uitspreek.
Dit het gevolg na 'n week van hoogdrama, wat eintlik vroeg in die week begin het. Die Arende het eers Dinsdagaand, 6 Junie, gehoor wie hulle teenstanders gaan wees.
Toe was daar onsekerheid oor die datum en tyd. Die Arende en die George-rugbyklub maak gesamentlik gebruik van Outeniquapark. Die gebruik is dat die Arende Vrydae hul wedstryde daar speel en George syne op Saterdae.
Boland wou hê die wedstryd moes Saterdag gespeel word en Saru het hulle blykbaar gesteun. Die Arende wou Vrydag speel.
SWD-rugby het Donderdag 'n dispuut met Saru verklaar, maar die Arende is Vrydagmiddag ingelig dat die wedstryd wel Saterdag sal plaasvind.
Verteenwoordgers van Evergreens en George-rugbyklub vergader in die tonnel by die hoofpawiljoen terwyl die wedstryd tussen die Arende in die Kavaliers gespeel word. Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’