Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Omring deur verskeie mense wat 'n groot impak op sy sukses as president van SWD-rugby gehad het, het Hennie Baartman Maandagaand, 23 Mei, afskeid geneem.
Baartman is onlangs op die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) verkies. Hy is sedert 25 Mei nie meer president van die SWD-rugbyunie nie. 'n Waarnemende president is intussen verkies.
Maandagaand se gastelys het gewemel van belangrike mense in die rugby en sportwêreld.
Onder hulle was Deon Davids, die Springbokke se hulpafrigter, James Stoffberg, 'n nasionale keurder, Grant Riddles, burgemeester van Hessequa, Chad Louw, burgemeester van Oudtshoorn, verskeie rugbyadministrateurs en oudspelers. Van Baartman se familie waaronder sy twee kinders, Ilse en Whal, was ook teenwoordig.
'n Oomblik van stilte is ook gehandhaaf. Daar is gebid vir die familie en vriende van mense wat in Saterdagaand se tragiese busongeluk betrokke was. 'n Tweejarige seuntjie, Matthew Malgas, is dood en verskeie rugbyspelers en ondersteuners van die Excelsior-rugbyklub van Wittedrif in Plettenbergbaai is beseer.
Die ongeluk het baie naby aan die hotel plaasgevind. Virgill Gericke, gemeenskapsleier, het die gebed gedoen.
VIDEO: SWD groet Hennie Baartman
Terugblik
Tydens Maandag-aand se geleentheid is teruggedink aan die lang tydperk wat Baartman aan die stuur van SWD-rugby was.
Hy was sedert 2010 president van die unie. Eddie Myners, die assistentafrigter van die Springbok-vrouerugbyspan en 'n voormalige afrigter van die SWD Arende, was die programleier.
Johan Lerm, 'n voormalige afrigter van die SWD Arende, het vertel dat Baartman destyds onder moeilike omstandighede die leisels oorgeneem het.
Pietie Conradie, wat namens SWD laerskole rugby gepraat het, het gesê toe hy Baartman ontmoet het, het hy gesien hy is iemand met 'n visie en is doelgerig. Hy het die unie met 'n ferm hand gelei en hy was toeganklik.
James Speelman het namens die skeidsreg-ters gepraat en gesê Baartman het diep spore getrap en dis nie goed dat hy uittree as president nie.
John Nortjé het gesê toe Baartman in 2010 oorgeneem het, was die unie in 'n warboel. Baartman het die skip uit die warboel gestuur.
Baartman het almal bedank wat hom oor die jare in sy taak bygestaan het. Hy het onder meer verwys na die unie se personeel en die opofferinge wat sy kinders gemaak het.
Hy het gesê daar was goeie en slegte tye. Toe hy destyds oorgeneem het, het hy op twee dinge besluit, naamlik om in mense te belê en die unie se finansies op 'n gesonde voet te kry. Hy kan nou eerlikwaar verklaar die unie is kerngesond.
Baartman het die leiers van klubs gevra om leiers in hul gemeenskappe te word en nie aanhitsers van geweld nie. Dit moet vir mense aangenaam wees om na die rugbyveld te gaan.
Ben Brinkhuis, senior visepresident van die unie, het Baartman bedank vir sy hulp. SWD sal hard moet werk om Baartman se standaarde te handhaaf en selfs hoër te stel.
Deon Davids, (links) die Springbokke se hulpafrigter, Hennie Baartman en Anton Moolman, hoofafrigter van die SWD Arende tydens Maandagaand se geleentheid.
Hennie Baartman saam met sy twee kinders, Ilse en Whal.
Hennie Baartman saam met Chad Louw, Oudtshoorn se burgemeester en Grant Riddles, Hessequa se burgemeester. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'