TUINROETE NUUS - Toe die SWD Arende Saterdag 27 April binne die eerste paar minute van die SA Bekerwedstryd op Outeniquapark 'n drie teen die Vrystaat Cheetahs gaan druk, het die tuisskare dalk kon dink, "Hier kom 'n ding!" Die Cheetahs is immers die 2023 Curriebekerkampioene.
Dit was egter toe nie so nie en die Cheetahs het 'n paar minute later teruggeslaan en agter die doellyn gaan kuier. Na 12 minute was die telling sewe elk.
Die Cheetahs het toe geleidelik beheer van die wedstryd geneem. Toe die rustydfluitjie blaas was die Cheetahs 24 - 7 voor.
In die tweede helfte het dit gelyk of die Arende met ekstra geesdrif speel. In die 24ste minuut van die tweede helfte het die tuisskare rasend geword toe Mpho Ntsane 'n baie goeie drie vir die Arende gedruk het.
Dit was nadat die Arende 'n fout deur die Cheetahs uitgebuit het.
Uiteindelik het die Cheetahs te veel skietgoed vir die SWD Arende gehad. Die Vrystaatse span het agt keer agter die doellyn gaan kuier.
Vir die Arende het dinge nie altyd klop-disselboom gegaan nie en hulle het drie geelkaarte gekry. In een stadium was daar net 13 van die Arende se spelers op die veld.
Die Cheetahs het ongelukkig hul doel bereik deur die SWD Arende met 46 - 14 te klop.
Na die wedstryd het Janneman Stander, kaptein van die Arende, gesê hy is trots op die manne oor hoe hulle gespeel het. Hulle sal die week voorberei vir Saterdag 4 Mei se wedstryd teen die Griffons.
Volgens hom het die Arende vooraf vir hulself gesê om nie die Cheetahs te onderskat nie. "Ons het met die doel uitgekom om vir die mense van George te wys wie die Arende is." Dinge het nie altyd in plek geval vir die Arende nie, maar het hy bygevoeg: ''Ons het ons man gestaan."
Frans Steyn, direkteur van Vrystaat-rugby, was na die wedstryd duidelik nie baie beïndruk met sy span se vertoning nie. "Ons is nie so erg tevrede hoe ons gespeel het nie."
Steyn, een van die meer ervarenes op die oomblik in Suid-Afrikaanse rugby, het gesê dis 'n bouproses.
"Ons gee onsself 'n kans."
Volgens Steyn het die span foute op onnodige plekke gemaak. Die span het wel gewen.
Die Cheetahs se volgende wedstryd is teen die Valke. Van die Cheetah-spelers is beseer en daar sal planne gemaak moet word. Hopelik sal van die spelers wat aan die Varsity-beker deelgeneem het betrek word.
Die Arende speel Saterdag teen die Griffons op Outeniquapark en begin om 14:30.
Rosco Syster gee die bal uit kort voor die eerste drie teen die Cheetahs gedruk is. Foto's: Kristy Kolberg
Leerlinge van Hoërskool Prieska het ook Saterdag se wedstryd bygewoon. Daar was geen twyfel oor wie hulle ondersteun nie. Foto: Eugene Gunning
Die een is myne. Tyrone Rose, (regs) slot van die Arende rank vir die bal. Foto: Eugene Gunning‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’