GEORGE NUUS - Die SWD Arende het verlede Vrydag, 6 Maart, net voor hul openingswedstryd in die SA Cup teen die Airlink Pumas, hul borge vir die nuwe seisoen bekendgemaak.
Onder die maatskappye wat vanjaar bankvas agter die Arende staan, is Dotsure, UXI, Africa Skills, Kiron Properties, Anchor Capital, Avis Van Rental, WRC, Coca Cola, Planet Fitness, Motus GWM George en Eden Beds, met Motus GWM George wat ook twee voertuie aan die afrigtingspan geborg het.
Tydens die bekendstelling het SWD-rugby se president, Ben Brinkhuis, sy dank uitgespreek teenoor elke borg en ondersteuner en gesê hy sien uit na 'n seisoen met nuwe spelers, nuwe borge en 'n nuwe afrigtingspan.
Onder leiding van hul nuwe hoofafrigter Heyneke Meyer, het die Arende naelskraap met 26 - 28 teen die Pumas verloor, 'n groot verbetering ná verlede jaar se pak slae teen dié span.
’n Groot groep Argentynse rugbyspelers het die wedstryd met groot gejubel en gejuig ondersteun. Hulle het grootliks bygedra tot die atmosfeer Vrydag in die stadion. Foto: Jeff Ayliffe
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’