Gallery
GARDEN ROUTE NEWS - Die Dotsure SWD Arende se onoorwonne begin in die Carling Curriebeker Eersteliga het Saterdag op Outeniquapark tot ’n einde gekom toe die OP Olifante hulle in ’n opwindende puntefees met 52 - 45 gewen het.
Ondanks die nederlaag het die tuisspan sewe drieë gedruk en tot die laaste fluitjie hard geveg, maar die Olifante se kliniese afwerking en die akkurate skopskoen van Maxwell Klaasen was uiteindelik die verskil tussen die twee spanne.
Die wedstryd is teen ’n geweldige tempo gespeel en het van die eerste minute af belowe om ’n skouspel te wees. Albei spanne het die bal met selfvertroue lug gegee en verdediging moes gereeld plek maak vir aanvallende rugby.
Die Arende het sewe keer die doellyn oorgesteek. André Warner was die tuisspan se gevaarlikste aanvaller met twee drieë, terwyl Msanda Mtshali, Janus Venter, Rune Lucas en Niel Beukes elk hul name op die telbord gekry het. Die Arende is ook met ’n strafdrie beloon. Losskakel Divan du Toit het vier van die drieë verdoel om SWD in die wedloop te hou.
Die Olifante het egter telkens antwoorde gehad.
Die OP Olifante tydens hul wedstryd teen die SWD Arende. Foto: Marguerite van Ginkel
Mpho Ntsane het twee drieë gedruk, terwyl Richman Gorra, Christiaan Potgieter, Damon Royle en Liyema Matyolweni ook oor die doellyn gegaan het. Klaasen het sy span uitstekend gelei met vyf doelskoppe en vier strafdoele, ’n persoonlike bydrae van 22 punte.
Waar die Arende dikwels uit uitstekende fasespel drieë geskep het, het die Olifante voordeel getrek uit strafskopgeleenthede en belangrike punte op die regte tye aangeteken. Daardie ekstra punte het uiteindelik die deurslag gegee in ’n wedstryd waarin die Arende nooit opgehou veg het nie.
Lede van die OP-vrouespan in ondersteuning van die Olifante. Foto: Marguerite van Ginkel
Hoewel die nederlaag teleurstellend vir SWD sal wees, sal die afrigtingspan ook weet dat hul span steeds sewe drieë teen een van die sterkste spanne in die kompetisie kon druk. Die Arende se aanvallende spel het weer hul potensiaal gewys, maar verdedigende foute en dissipline het hulle duur te staan gekom.
Vir die Olifante was dit ’n verklaringsoorwinning wat hul aanspraak as een van die gunstelinge vir die eersteliga verder versterk. Die halfeindronde sal nou komende naweek bepaal wie in die eindronde speel, as die Arende wen is dit ’n tuiswedstryd ook omdat hulle bo aan die punteleer staan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’