RUGBY NUUS - SWD Arende het die afgelope naweek teen Boland Kavaliers vasgeval en dié vriendskaplike wedstryd met 43 - 26 verloor.
Die wedstryd is by die Bridgton-sportterrein in Oudtshoorn voor 'n groot skare van plus minus 3 000 toeskouers gespeel.
Die telling vlei ietwat die Arende omdat die Kavaliers op 'n stadium met 43 - 12 voorgeloop het.
Die wedstryd het belowend vir die tuisspan begin toe hul eerste bloed geruik en 'n skitterende drie via 'n dwarsskop van hul losskakel gedruk het wat deur die vleuel uit die lug geraap is vir 'n onverdoelde drie.
Kavaliers het binne 'n bestek van 12 minute geantwoord met 'n strafskop, twee drieë en 'n doelskop wat die telling eensklaps op 15 - 5 te staan gebring het.
Ofskoon die Arende hierna 'n verdoelde drie van hul eie kon druk, was dit meestal eenrigtingverkeer vir die Kavaliers.
Die halftydtelling van 22 -12 was in Boland se guns.
Die tweede helfte het afgeskop soos dit geëindig het, met Kavaliers wat veral die Arende in die skrums gekarnuffel het. Die Arende se skrumtegniek sowel as hul sigbare gewigsverskil is ook aan bande gelê. Ook in die kontaksituasie is die Arende te maklik as ware na die grond geboelie met bitter min weerstand wat gebied is. Die manne in wit en groen se lynstane was redelik sekuur, maar dit help min as jou spelers hanteerfoute op kritieke stadiums maak.
Slegs 'n kombinasie van individuele briljante spel en Kavaliers wat hul spreekwoordelike voet van die petrol afgehaal het, was die rede dat die Arende in die laaste 10 minute twee drieë kon druk om die eindtelling meer eerbaar te maak - andersins lê daar harde werk voor indien hulle voortaan op 'n gereelde basis met die groot honde wil blaf.
Boland se speler wys hakskene vir sy teenstander.
Bridgton vs Harlequins
In die hoofwedstryd van die dag het Bridgton-rugbyklub se A-span in 'n emosie-belaaide wedstryd teen Harlequins met 14 - 10 vasgeval.
Bridgton-rugbyklub het verlede Sondag-oggend die tragiese nuus ontvang dat hul geliefde flank, Boutros 'Boelie' May, met 'n skerp voorwerp doodgesteek is. Voor die wedstryd begin het, het die hele stadion in eenheid Bridgton se klublied uit volle bors gesing met May se nommer 7-rugbytrui wat in eerbied voor die spelers vertoon is.
May se begrafnis is eerskomende Saterdagoggend 10:00 by die huis en 11:00 by Bridgton UCC.
So het die res van Bridgton se spanne gevaar:
- Bridgton B wen 15 - 14 teen Harlequins B
- Bridgton C wen 24 - 10 teen Grootkraal C
- Bridgton D wen 53 - 5 teen Matjiesrivier
Dit het drie spelers van Bridgton se A-span gekos om Harlequins se Rhupino Plaatjies plat te trek. Foto: Ebenezer Titus
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'