GEORGE RUGBYNUUS - Dis die naweek se gróte, die Mic Fin Premierliga-kragmeting tussen Evergreens (30 punte) en Crusaders (29 punte) Saterdagmiddag in Pacaltsdorp.
Ondersteuners brom onderlangs van 'n oorlog in die kleine en ja, verwag maar dat die twee bulspanne gaan koppe stamp. Evergreens gee steeds die pas aan in die liga, maar Crusaders is waarskynlik saam met Progress die twee spanne wat tans die grootste indruk maak.
Crusaders is tweede op die puntelys en hy gaan sy grofgeskut inspan vir die tweestryd. Evergreens is ook op volle sterkte en sal sy voorloperstatus met mening verdedig.
In die Gaatjie pak Blanco vir George wat ook 'n taai kragmeting kan afgee. Blanco sal wil vergoed vir sy nederlaag teen Heidelberg terwyl George sal bewys dat sy puik vertoning tot dusver vanjaar geen gelukskoot was nie. Om Barbarians op sy tuisveld te klop, wil gedoen wees.
Heidelberg sal Jaguars met hope selfvertroue in Plett aandurf nadat hy die gedugte Blanco op sy tuisveld begrawe het.
Dis veral voorlangs in die skrums waar Heidelberg die grondslag kan lê vir 'n oorwinning. En agterlangs kan snellers soos die twee vleuels, Gershon van Rooyen en Sirgene Swartbooi, en die heelagter, Corbin Swartbooi, Plett se verdediging toets.
Só lyk die klubrugbyprogram (tuisspan eerste genoem):
Saterdag 18 Mei
- Groot-Brak teen Progress;
- Evergreens teen Crusaders;
- Silver Stars teen Bridgton;
- Jaguars teen Heidelberg;
- Blanco teen George;
- Barbarians teen Maori's
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'