RUGBYNUUS - Die Groot-Brak-gemeenskap het Saterdag 5 Augustus gesorg vir groot opwinding toe hulle die span van Blanco verwelkom het op eie bodem.
Blanco se taak was eenvoudig: Wen! 'n Wen sou vir hulle nog 'n buitekans gee om aanspraak te maak op hierdie jaar se uitspeelrondes.
Tóg het Brak sy momentum van die vorige seisoen behou en is tans die span om mee rekening te hou, dit was nét een taak te veel vir die manne van die 'gaaitjie'.
Sachin Toring, skrumskakel van Brak het oorgegaan vir sy span se eerste drie. Roshwin Abrahams het die drie verdoel. Dit het beteken 7 - 0 binne die eerste ses minute van die wedstryd.
Brak het sy ritme dadelik gevind en het weer bloed geruik toe hul regtervleuel, Riduwaan Scheepers, oorgegaan het vir sy eerste drie van twee vir die dag. Net 12 minute in die eerste helfte en Brak was op pad om te doen wat elke rugbykenner voorspel het. Die telling toe reeds 12 - 0.
Het die Brakkies té vinnig op Blanco af gekom?
Hierdie wedstryd was vir Blanco van kardinale belang en hulle het begin deur hul wedstrydplan af te dwing deur twee drieë te druk waarvan een verdoel was, sake was nou gelykop met 12 elk.
Vir die meerderheid van die wedstryd kon Brak of Blanco se ondersteuners geensins gemaklik raak nie. Die manne het mekaar op en af gejaag met goeie spel. Dit was uiteindelik Brak wat die eerste 40 minute met 19 - 12 gewen het.
Johan Lerm en Bevin Fortuin ken mekaar baie goed en dit was sigbaar in die manier hoe hierdie twee spanne mekaar aangedurf het.
Groot-Brak se vleuels het net na die afskop van die tweede helfte die krane oopgedraai en gesamentlik nóg drie drieë gedruk. Telling op 31 - 12.
As daar 'n span is wat die volgende paar seisoene 'n opskudding gaan veroorsaak, dan is dit Blanco.
Die manne wat aan die voet van Outeniquaberge geleë is het nooit ophou glo nie. Aanslag op aanslag, breek op breek en toe kom die deurbraak. Blanco was besig om in die span van Marquin Smart, slot en kaptein van Brak, se nekke te blaas. Skielik was daar vyf punte verskil (Brak 31, Blanco 26). Blanco het 'n strafskop gekry en verkies om lyn toe te skop.
Was dit die verkeerde besluit op die regte tyd om die drie punte te vat met genoegsame speeltyd in die wedstryd oor?
Die wedstryd het letterlik tot die laaste minuut aan 'n stukkie garing gehang. Blanco het later voorgeloop, 33 - 31. Toring (Brak se skrumskakel) breek die harte van Blanco in die doodsnikke van die wedstryd en gaan duik oor in die hoekie, nét daar waar die sonsondergang is, pragtig.
Brak wen, 36 - 33. Achin Toring is aangewys as speler van die wedstryd. Bridgton doen die "onmoontlike"!
Heidelberg en Bridgton
'n Wedstryd wat 'n gesamentlike telling van 95 punte tussen twee aanspraakmakers vir die uitspeelronde opgelewer het. Was dit 'n kwessie van swak verdediging vanaf beide spanne, óf het die manne werklik net brutale, goeie hardlooprugby opgelewer?
Volgens Pieter Bacons, 'n passievolle rugbyliefhebber het Heidelberg die wedstryd met 'n hoë tempo en goeie vertonings begin en het die skare op hul voete gehad. Bridgton word geken vir hierdie tipe spel. Heidelberg het definitief té vinnig te gou begin. Daar sou geen manier wees hoe hulle daardie tempo kon handhaaf wetend dat hulle 'n lange rit agter die rug het nie. Heidelberg wat die meerderheid van die seisoen die pas aangegee het lê tans vierde. Bridgton wen, 50 - 45. Wie se wiele gaan afval voor die aanvang van hierdie jaar se halfeindstryd?
Ons sal moet wag en sien. Een ding is seker, opskuddings is op pad.
Crusaders en George
Crusaders het die vermoë om hul opponente opgewonde te maak, nét om na 80 minute hulle in 'n tranedal te los. George het weliswaar voorgeloop met 24 teenoor 7.
Die eindtelling na 80 minute, 67 - 24 in die guns van Crusaders. Die manne weet hoe. Tóg kan hulle nie hierdie tipe terugvegpogings bekostig wanner die Gold Cup eersdaags op hul voorstoep is nie. Druk jou stempel van die staanspoor af, kampioen.
Maoris het gewys hoekom hulle vir so lank oorleef in die premierliga. Hulle moes Blues wen om uit die greep van relegasie te ontsnap, en dit is presies wat die span van Borchards Saterdag vermag het. Die eindtelling was 24 - 17.
Nathan Claasen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’