Video
RUGBY NUUS EN VIDEO'S - Die Ebrahim Patel-gemeenskapsbeker Paasnaweektoernooi is verlede Donderdagaand, 20 Maart, op spoggerige wyse by Fancourt-landgoed bekendgestel. Die aand was nie net 'n viering van gemeenskapsrugby nie, maar het ook die belangrike rol van sport in George as 'n toonaangewende rugbystad beklemtoon.
Onder die eregaste was die bekende SA rugbylegende Irwin October, onderburgemeester Browen Johnson, en een van Suid-Afrika se voorste rugbyhistorici, dr. Hendrik Snyders. Dit was veral Snyders wat die gehoor aangegryp het met 'n kort, maar insiggewende reis deur die geskiedenis van rugby in Suid-Afrika.
"Presies 33 jaar gelede is 'n nie-rassige Suid-Afrikaanse rugby gebore," het Snyders gesê.
"Op 20 Maart 1992 het Ebrahim Patel en sy span in Kimberley vergader met dr. Danie Craven, Dougie Dyers en ander sleutelspelers om 'n einde aan verdeeldheid in die sport te bring. Vandag herdenk ons daardie historiese oomblik wat die grondslag gelê het vir 'n verenigde Suid-Afrikaanse rugby."
Tydens die geleentheid is die hoofborg, New Hope Training, aangekondig en die spanne se uitrustings amptelik aan hul spankapteine oorhandig. Daar is ook 'n loting gehou om te bepaal watter twee spanne die toernooi sal afskop. Bridgton van Oudtshoorn en Safcol United sal die eerste wedstryd speel, wat beloof om 'n kragmeting van formaat te wees.
Die ander wedstryde op die eerste dag,17 April, by Outeniquapark sluit in:
- Groot-Brakrivier vs. Gardens
- Heidelberg vs. PE Harlequins
- St George's vs. Robertson
Op 19 April sal Hoërskool Pacaltsdorp en Groot-Brakrivier se o. 19-spanne mekaar die stryd aansê in 'n voorwedstryd, terwyl George-rugbyklub en Crusaders van Parkdene op 21 April speel vir 'n 2026 Wild Card-kwalifikasie.
George as sportkern van die Tuinroete
In sy toespraak het onderburgemeester, Browen Johnson, die belangrikheid van sport in die ontwikkeling van George beklemtoon.
"George is 'n spesiale plek - bekend as die stad vir alle redes. Daarom is dit 'n eer om hierdie gesogte toernooi hier aan te bied. Sport speel 'n sleutelrol in ons strewe om George as die sportkern van die Tuinroete te vestig, en die impak is reeds sigbaar - LekkerSlaap se besprekingskoers het 93% bereik danksy hierdie toernooi. Dit wys hoe sport mense bymekaar bring."
Hy het verder uitgelig dat George 'n sterk rugbygeskiedenis het en deur die jare legendes soos Bevin Fortuin, Anton Leonard, Zane Kirchner en Darryl Coeries opgelewer het. "Rugby is in ons DNS, en met ons talent en infrastruktuur is ons gereed vir wêreldklassportgeleenthede," het hy gesê.
Groot geleentheid vir klubrugby
Toernooidirekteur Romano Lekay, het in sy toespraak klemgelê op die deurslaggewende rol wat Patel gespeel het om eenheid in Suid-Afrikaanse rugby gebring het. Die toernooi eer sy bydrae en die eenheid wat hy help bou het.
Saru-verteenwoordiger Hennie Baartman, en SWD-president Ben Brinkhuis, het almal die organiseerders geloof vir hul besluit om die toernooi na George te bring. Hulle was dit eens dat hierdie toernooi klubs en spelers uitstekende blootstelling bied en het beklemtoon dat dit 'n groot eer vir SWD is om die geleentheid aan te bied.
Met die toneel gereed vir vier dae van intense rugbyaksie, sien spelers en ondersteuners uit na 'n naweek wat beloof om sporttalent, gemeenskapsbetrokkenheid en mededinging op sy beste ten toon te stel.
Video's:
SA rugbylegendes, Ronnie Korkee, Irvin October en Bernard Petersen.
Groot-Brakrivier se kaptein, Marquin Smart, die legendariese Piet Smith van Groot-Brakrivier, Demi Rhoode en Henn-lin Botha.
Dr. Hendrik Snyders en sy vrou, Ethelwyn, saam met Amorette en Romano Lekay. Foto's: Lizette da Silva
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’