Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - As daar een persoon is wat weet wat dit verg om op die hoogste vlak te presteer, is dit die oud-Springbok Zane Kirchner.
Kirchner, wat deesdae in George woon, het al 32 keer die groen en goud gedra. Hy het in 'n stadium ook in Ierland rugby gespeel. En nou kry jong sportgeesdriftiges die geleentheid om eerstehands by hom te leer.
Hy het Maandag 13 Desember met 'n geleentheid op die rugbyvelde van Hoërskool Heatherlands begin waar hy jong sportmanne en -vroue help om fiks en aktief te bly in die vakansietyd. Enigiemand van 14 jaar en ouer kan deelneem.
"Ons gaan moeg word, maar dit is altyd die moeite werd," het hy op Facebook geskryf. Dit is gratis.
Van die eerste deelnemers het Maandag van kort voor 12:00 opgedaag en nie eers 'n aanvanklike ligte reënbui kon hul geesdrif demp nie.
Video's: Sukses met harde werk
Kirchner het benadruk dat dit nie 'n rugbyafrigtingskliniek nie. "Ek gee nie om wie jy is en waar jy vandaan kom nie," het hy gesê.
Hy glo daar is baie voordele in harde werk. Mense praat van talent, maar dit het 'n vervaldatum.
Kirchner het gesê dit is 'n persoonlike ding vir hom om 'n kultuur van harde werk te vestig. "Almal het verwagtinge om suksesvol te wees. As iemand regtig suksesvol wil wees, moet hy/sy opdaag en hard werk. Harde werk is vir 'n leeftyd."
Hy het deelnemers gevra om nie vir hom op te daag nie, maar vir hulself.
Deelnemers is welkom om vriende saam te bring. Daar gaan nie worsrolletjies en versnaperings wees nie en dit gaan ook nie oor getalle mense wat opdaag nie. Hy glo die informasie sal voordelig wees vir enige sportdeelnemer en ook as mens.
Photo gallery: Oud-Springbok Zane Kirchner op George
Kirchner het na die eerste geleentheid gesê sy eerste indrukke is dat daar 'n groot hongerte by deelnemers is. Wat verblydend was, is dat die meerderheid deelnemers jonger as 23 jaar is. Dis die groep wat hy teiken.
Zane Kirchner
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'