GEORGE RUGBYNUUS - Die George-rugbyklub se topspan het in 1969 seker sy roemrykste prestasies behaal deur die SWD se Groot Uitdaagbeker te verower.
Nou, presies 50 jaar later, wil 'n groep oorblywende oudspelers, onder aanvoering van Colin Halgryn, wat 'n lid van dié seëvierende span was, dié prestasie tydens 'n reünie vier.
Die reünie word beplan vir 4 of 5 Mei by André Fourie se huis.
Die manne het in 2009 - 40 jaar ná die verowering van die Groot Uitdaagbeker - 'n geselligheid vir sowat 30 oudspelers gehou. 'n Paar van hul teenstanders destyds van Oudtshoorn het ook die braai-en-lemonade partytjie bygewoon.
Maar die oudspelers is nou vuur en vlam om die prestasie van 50 jaar gelede met 'n reünie in die herinnering op te roep en op gepaste wyse te vier. Colin sê enige speler wat die gestreepte wit en blou-trui gedurende die 1970's - selfs vroeër - aangetrek het, is welkom om die reünie by te woon.
Selfs spelers uit die 80's wat ook wil deel in die pret, is welkom. Belangstellendes kan Colin kontak by 082 899 6260 of e-pos by colindawp@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'