MELKHOUTFONTEIN NUUS - Seagulls was Saterdag 8 Julie weereens gemaklik aan die wenkant met 31 - 3 teen Prins Albert.
Die tuisspan het met rustyd met 17 - 3 voorgeloop in hul SWD Superliga B-wedstryd.
Die wedstryd is deurgaans voor- en agterlangs hard gespeel en beide spanne het nie gehuiwer om die bal lug te gee nie, maar goeie verdediging deur die tuisspan het gesorg dat die besoekers nie agter hul doellyn kon gaan kuier nie.
Die tuisspan het wel vyf keer gaan druk om 'n waardevolle bonuspunt in te oes asook om hul lojale ondersteuners te vergoed vir hul volgehoue ondersteuning.
Seagulls het egter bewys dat hulle met meer dissipline veel meer gefokus kan wees en sodoende veel beter spel kon oplewer.
Seagulls beklee steeds die tweede plek op die punteleer, maar het nog een wedstryd minder as die voorlopers, Harlequins, gespeel.
Vir Seagulls het Hackuum Jansen (senter), Wilhelm Solloman (heelagter), Exzaviour Francis (regtervleuel), Ralph Visagie (haker) en Ritchie Baker (stut), elkeen 'n drie gaan druk, terwyl Solloman ook met drie doelskoppe geslaag het.
Prins Albert se enigste punte is met 'n strafskop aangeteken.
In die eerste wedstryd van die dag het Seagulls se B-span met 22 - 7 geseëvier nadat hulle rustyd met 15 - 0 voorgeloop het.
Vir Seagulls het die senters, Emile October en Devan Kleinhans, asook Teswill Rhoda (plaasvervangersenter), elkeen een drie gedruk.
Delano Jacobs (losskakel), het twee drieë verdoel en ook met een strafskop geslaag.
Seagulls speel Saterdag 15 Julie weg teen Collegians in Oudtshoorn.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’