MELKHOUTFONTEIN NUUS - Seagulls het Saterdag 22 Julie met 'n vurige aanslag vorendag gekom om hul tuiswedstryd teen Happy Hearts van Brandwacht met 55 - 8 te wen.
Die rustydtelling was 29 - 0 in die tuisspan se guns.
Seagulls se vasberadenheid om te vergoed vir hul naelskraapse nederlaag die vorige week, het grootliks daartoe bygedra dat hul vlugvoetige agterspelers die besoekers knaend in trurat gehad het.
Seagulls het al telkens die seisoen gewys dat hulle in staat is om wenrugby op te dis, maar hulle sal moet leer om meer gefokus te wees en ook om vinniger te kan aanpas by die omstandighede wat op die veld uitspeel.
Hulle sal egter alles moet uithaal in hul wegwedstryd teen Knysna United as hulle na die eindstryd wil deurdring.
Vir Seagulls het Nathan Buis (senter), drie keer gaan druk, met Girtvin Kleinhans (flank), ook twee keer. Hackeem Kjansen (senter), Exaviour Francis (linkervleuel) en Gershom Van Rooyen (plaasvervangersenter), het elkeen een drie gedruk. Wilhelm Sollmons (heelagter), het ses drieë verdoel en met een strafskop geslaag.
Seagulls se B-span het met 33 - 9 gewen nadat hulle rustyd met 13 - 9 voorgeloop het.
Puntemakers vir Seagulls was Devan Kleinhans (senter), Enrich Daries (flank), terwyl Waden Lakay, Morné Francis en Jason Lawrence, al drie plaasvervangers, elkeen een drie gedruk het. Delano Jacobs (heelagter), het met een doel- en twee strafskoppe geslaag.
Seagulls speel Saterdag 5 Augustus weg teen Knysna United.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’