SUID-KAAP RUGBYNUUS - Die koronavirus-pandemie het rugby in die SWD met sy een been in die graf geskrum. Daar sal vanjaar geen verdere klubrugby in die Suid-Kaap plaasvind nie en die Curriebeker-reeks se Eerste Liga, waaraan die SWD deelneem, is ook gekelder.
Finansieel gaan dit 'n klein unie soos SWD op sy knieë dwing en selfs meebring dat afrigters en spelers binnekort dalk werkloos kan wees. Veral op klubvlak gaan dit bloei.
Niemand het die Covid-19-pandemie voorsien nie en nog minder weet enigeen wanneer dié nagmerrie uiteindelik verby gaan wees. Dit maak dit bitter moeilik om werkbare planne ter tafel te lê.
Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het pas besluit dat slegs agt senior beroepspanne vanjaar rugby sal speel. Dié seisoen sal waarskynlik van September tot einde Desember strek.
Hennie Baartman, president van die SWD-rugbyunie, het in 'n onderhoud met George Herald gesê dié besluit van Saru het nie as 'n groot skok gekom nie en dat hy dit onomwonde ondersteun.
"Ek is 'n voorstander van geen rugby nie te midde van die pandemie. Om enige rugby, hetsy op klub- of provinsiale vlak, te speel voordat daar 'n Covid-19-teenmiddel beskikbaar is, gaan die welstand van spelers in gevaar stel. Ons glo 'n lewe is meer werd as rugby.
"Finansieel is dit nie moontlik vir die SWD om voort te gaan nie. Ons het 'n beperkte begroting waarmee ons moet werk en ons beskikbare hulpbronne sou ons tot einde September kon dra."
Die unie het sy 25 spelers van Januarie tot einde September gekontrakteer.
"Selfs al sou mens die seisoen kon verleng vir spanne in die Eerste Liga, wat natuurlik nou neusie verby is, is daar nie ekstra geld beskikbaar nie. Anders as die groter unies soos die Stormers en die Leeus, het ons eenvoudig nie ankerborge of 'n groot begroting om spelers vir langer te kontrakteer nie," het Baartman bygevoeg.
Oor die moontlikheid van vriendskaplike wedstryde teen van die kleiner unies, het Baartman gesê benewens 'n gebrek aan geld sal hy nie toelaat dat spelers na brandpunte van die pandemie, soos Gauteng en die Wes-Kaap, vir wedstryde reis nie. "Dit sal dom wees."
Die gewese Springbok-heelagter Bevin Fortuin en tot onlangs nog voorsitter van Blanco-rugbyklub, reken die opskorting van die rugbyseisoen kan 'n massiewe impak op klubrugby in die Suid-Kaap en by kleiner rugbyunies soos die SWD hê. "Wie kon die impak van Covid-19 voorsien? Dit gaan rugby knou, maar die groot vraag is hoe benader mens die situasie vorentoe."
Fortuin sê finansieel gaan veral spelers sukkel om kop bo water te hou, want daar is so min werk en geleenthede in rugby self. "My hart bloei vir 'n klomp spelers wat binnekort op straat gaan sit. As oudspeler weet ek die manne brand om weer rugby te speel, maar dis 'n buitengewone situasie wat buitengewone besluite verg en ongelukkig moet mens jou daarby neerlê.
"Neem in ag dat klubrugby op 'n Saterdag maklik enigiets tussen 3 000 en 5 000 toeskouers trek. Dit hou 'n groot risiko vir almal se gesondheid in, want dis feitlik onmoontlik om soveel mense te beheer.
Aan die positiewe kant, sê Fortuin, is dit nou die geskikte tyd om 'n nuwe blaadjie om te slaan en dinge van vooraf te beplan. "Klubs en die unie kry nou 'n gulde geleentheid om met 'n skoon lei te begin, met kreatiewe oplossings vorendag te kom en ook borge te nader met nuwe idees oor hoe om die spel hier te bevorder."
Julyan Perez, wat lank die leisels by George-rugbyklub vasgehou het, sê daar is van hulle kant begrip vir Saru en die SWD se besluit. "Die nuus was te wagte, maar dis 'n groot jammerte. Die onsekerheid oor die pandemie is verskriklik en mens se emosies ry wipplank tussen negatief en positief.
"Almal is maar bang vir die virus. Covid se invloed slaan wyd en gaan 'n klub soos George finansieel seermaak. Ons vertrou dat ons spelers pligsgetrou by die huis oefen, maar rugby is 'n kontaksport en sonder fisieke mededinging gaan die spel daaronder ly."
Perez sê hy is bekommerd dat spelers wat 'n inkomste uit rugby verdien dalk gaan besluit om die spel vaarwel te roep. "Maar terselfdertyd gaan die lang rusperiode beseerde spelers kans gee om behoorlik te herstel. Ons het ook nuwe oefenprogramme waaraan die spelers in die afseisoen kan werk."
Randall Geduld, voorsitter van Progress, sê die klub het groot planne vir dié seisoen gehad, maar Covid-19 het dit nou ontspoor. "Ons het die ervare Darryl Coeries as hoofafrigter aangestel, verskeie nuwe aanwinste gewerf en alles in plek gehad om Progress weer in die topliga te laat seëvier.
"Ons grootste vrees is dat spelers geldelik gaan sukkel. Progress het 'n trotse rekord dat hy sy spelers altyd in tye van nood kon ondersteun. Die afgelope paar jaar was blomjare vir die klub met 'n jaarlikse hekinkomste van bykans 'n halfmiljoenrand. Nou's daar niks nie. Sommige spelers het darem 'n tweede bron van inkomste, maar van die jonger manne is van rugby afhanklik om te oorleef. Ek hoop net ons kan hulle behou."
Die doodsklokke lui nog nie vir rugby nie, maar dit gaan buitengewone planne verg om nuwe lewe in die Suid-Kaap se gewildste sportsoort te blaas.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'