Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Meer as 100 Tens-rugbywedstryde, 60 Tens-rugbyspanne, 20 netbalwedstryde, 100 gholfspelers wat oor drie dae op drie verskillende bane speel, 10 rolbalspanne wat teen mekaar meeding en lewendige vermaak.
Dit is in 'n neutedop wat wag in die George Tens Sport & Lifestyle Festival wat vandag, 2 Desember, begin en tot Sondag 5 Desember duur.
Dit word op Outeniquapark en omliggende gebiede aangebied. Die gholf vind op Kingswood, Oubaai en George-gholfbaan plaas. Die bergfietsry en veldwedlope wat sou plaasvind moes ongelukkig afgestel word na verlede week se vloede wat groot skade aan die roetes aangerig het.
Van Suid-Afrika se bekendste sportsterre het reeds hulle gewig agter die toernooi ingegooi en oud-Springbok rugbyspelers, Anton Leonard en Victor Matfield, sal dit onder meer bywoon.
Die George-munisipaliteit is by die geleentheid betrokke as een van die borge.
Vanjaar sal toeskouergetalle moet beperk word as gevolg van Covid-19-regulasies. Die organiseerders hoop egter dat dit in die toekoms een van die grootste sport- en feesgeleenthede in George se geskiedenis kan word. Na raming sal sowat 1 000 mense aan die sportgeleenthede deelneem.
Die rugby maak reeds groot belangstelling gaande want dit sal die eerste keer in 'n lang tyd wees dat daar weer toeskouers op Outeniquapark toegelaat word. Die rugbyspanne sluit 20 vrouespanne in, asook laer- en hoërskole spanne, semi-professionele spelers, professionele spelers en legendes.
Video: Kom geniet die sport en die fees
Heyneke Meyer, medeorganiseerder bygestaan deur Ig van der Merwe, ook 'n medeorganiseerder, het Dinsdag 'n draai gemaak by Outeniquapark om te kyk hoe reëlings vorder. Meyer het aan George Herald gesê reëlings is op koers.
Hy het Sondagaand, 27 November, asem opgehou toe pres. Cyril Ramaphosa oor die jongste situasie van die pandemie gepraat het. Uiteindelik het hy 'n sug van verligting geslaak toe dit blyk dat sulke geleenthede kan voortgaan.
Medeorganiseerders, Ig van der Merwe en Heyneke Meyer Dinsdag by die B-veld van Outeniquapark. Hulle het 'n draai gaan maak om te kyk hoe vorder die voorbereidings vir die geleentheid. Foto's: Eugene Gunning
Meyer het benadruk dat Covid-19-regulasies streng gevolg gaan word en mense sal veilig kan voel. Die geleenthede vind buite plaas en as dit sou reën is daar tente waar mense kan skuil as hulle die vermaak wil bywoon. Sy advies aan mense wat wil kom kyk, is om eerder vroeg te kom sodat hulle nie teleurgesteld is as hulle by die hekke weggewys word as gevolg van beperking op toeskouergetalle nie.
Hy is verras met die groot belangstelling. Daar kan verskeie redes voor wees. Mense wil weer deelneem en buite kom. Die Suid-Kaap is 'n groot aantrekkingskrag. Hy weet van mense wat aangedui het dat hulle die hele fees oor die paar dae gaan bywoon. Daar sal voldoende parkering wees met sekuriteit by die nabygeleë Hoërskool Heatherlands.
Mense kan vooraf bespreek by Computicket en kaatjies sal ook by die hekke te koop wees.
George-munisipaliteit steun geleentheid
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid vir finansies en strategiese dienste van die George-stadsraad, het gesê dis belangrik om toeriste terug te lok. Geleenthede soos die fees kan dit laat gebeur. Toerisme is 'n groot ekonomiese dryfkrag. Die geleentheid bied 'n alternatief vir die Internasionale sewesrugbytoernooi wat in die verlede met groot sukses in George aangebied is. Volgens hom is dit nie net 'n sportgeleentheid nie. Dis ook 'n fees.
"Ons probeer uit 'n plaaslike oogpunt die ekonomie te stimuleer. Ons hoop dat George se publiek met ons hande sal vat en dat die geleentheid van krag tot krag sal gaan."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'