RUGBY NUUS - Die seisoen word lank!
Alhoewel wedstryde afgestel is weens swaar reën, moes Progress na die Hessequa-streek reis om die nuweling, Riversdal Blues, aan te pak in hul laaste vesting van die 2023 Premierliga seisoen.
'n Seisoen wat Progress en sy geliefkoosde ondersteuners baie graag sal wil vergeet. Die driemalige Premierliga kampioene het hul seisoen in die negende plek op die punteleer geëindig, 'n prestasie wat as 'n geskiedkundige oomblik in die klub beskou word.
Wat die sout nog dieper in die oop wonde gevryf het, was die feit dat Blues, wat feitlik die liga sal verlaat na hierdie seisoen, met Progress in die mees onverwagte manier afgereken het.
Die manne van Riversdal het Progress 39 - 0 gewen, nadat net twee eerstespanspelers van Progress opgedaag het vir hierdie kragmeting.
Die span is geforseer om van sy tweede- en derdespanspelers gebruik te maak om hierdie seisoen af te sluit. Ongeag die uitslag, welgedaan jongmanne van Progress. Julle het tot die laaste uitgehou en jul klub met trots verteenwoordig.
Bridgton en sy getroue bankvas ondersteuners het in afwagting gewag op hul teenstanders.
Die gevreesde Crusaders het egter die mense in Oudtshoorn aan 'n lyntjie gehou en nie hul eerste span oor die berg gestuur om teen Bridgton uit te draf nie.
Net soos in Riversdal waar Progress se tweede en derde span die eerste span moes verteenwoordig, het presies dieselfde in Oudtshoorn gebeur. Dit het egter 'n demper op die gemoed van Bridgton se ondersteuners geplaas.
Hulle wou tóg die Gold Cup semi-finaliste in aksie sien, in wat Bridgton se laaste wedstryd van hierdie seisoen was. Dit was egter nie vir hulle bestem nie.
Bridgton het uiteindelik die wedstryd naelskraap gewen, 27-26.
Die ligabepalings is nog lank nie klaar nie. Die kompetisie sal strek tot 4 November, wanneer die eindstryd uiteindelik op Outeniquapark beslis sal word.
Welgedaan Naka Blou Bulle wat gekroon is as die Gold Cup-kampioene in vanjaar se kompetisie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’