Gallery
GEORGE RUGBY NUUS - In 'n toetsrugby-atmosfeer het die vreugdevure hoog gevlam in die Progress-rugbykamp nadat hulle vir Barbarians van Mosselbaai in die Groot-Uitdaagbeker finaal in 'n naelbytstryd met 14-10 geklop het.
Progress, wat vanjaar 14 van hul 17 wedstryde gewen het in die kompetisie en bo-aan die punteleer geëindig het met 73 punte en 'n punteverskil van (+313) het verdien om die wedstryd te wen.
Hul het ook die bordjies verhang nadat hul vroeër die seisoen in 'n groepwedstryd deur Barbarians op die Rosemoor-sportterrein met 19-17 geklop is.
Die bulspan van Progress het ook verlede jaar die kompetisie gewen toe hulle vir Evergreens met 24-15 geklop het. Hulle gaan nou SWD verteenwoordig in die kompeterende Goue Beker-rugbykompetisie van SARU wat in Maart 2019 afskop.
Die skeidsregter, Francois Davids, het hom goed van sy taak gekwyt en nie gehuiwer om vir Jonathan Simons (flank van Progress) en Shane Olckers (slot van Barbarians) met geelkaarte van die veld te stuur nadat die humeure in die eerste helfte van die wedstryd opgevlam het nie.
Die passie en opwinding van die 10 000 toeskouers het die spelers aangemoedig om hul lywe op die spel te plaas en aanskoulike hardlooprugby was aan die orde van die dag.
Barbarians het in die 38ste minuut eerste bloed geruik toe hul loskopstut, Vivian Groenewald, oor is vir 'n drie. Macdelin Saayman (losskakel) het dit verdoel en Barbarians was rustyd met 7-6 voor.
Progress se plaasvervangersbank, Wendell Pondo, Xavier Scholtz, Bredni Bestenbier, Shaun Raubenheimer, Cameron Lentoor en Werner Jacobs het na rustyd die groot verskil gemaak.
Die wenspan se 24-jarige Fizel Fredericks (linkervleuel), het in die 65ste minuut sy span se wendrie gedruk. Fredericks, wat vanjaar die voorste driedrukker in die kompetisie was, se spoed en rotsvaste verdediging het vir die manne van Mosselbaai hoofbrekens gegee.
Progress se flank, Jonathan Simons, was ongetwyfeld die beste speler op die veld. Hy het met sy kragtige dryfwerk, spoed na die afbreekpunte en puik verdediging sy teenstanders ontsenu.
Die oudleerder van Hoërskool Outeniqua en 20-jarige agtsteman, Luvuyo Ndevo, Chemani Kema (flank), Justin Levendal (slot) Brainton Booysen (haker) en Hendrik Kriek (loskopstut) het ook voorlangs 'n barshou gespeel vir die wenspan. Agter die skrum het Mzoxolo Dyantyi (skrumskakel en kaptein) 'n kapteinsbeurt gespeel. Sy taktiese skoppies, vlymskerp breekslae en goeie samespel met sy voor- en agterspelers was uit die boonste rakke.
Die oud-Arend, Clinton Wagman (regtervleuel), het met sy spoed en verdediging die oog gevang. Luzane Williams (heelagter) en die senterpaar, Ethan Williams en Carlton Dee Coeries het in die aanval en verdediging geskitter.
Barbarians se grootste probleem was dat hul betroubare skoppers na die pale hul skopskoene op Mosselbaai vergeet het. Hulle het met ses strafskoppe na die pale verbrou wat hul span duur te staan gekom het.
Hul agterste driehoek, vleuels Justin Bhana, Curshwon Mono en Wahlon Anthony het die groot skare op hul voete gehad met hul spoed en voorgevoel vir die spel. Kervin Taute (binnesenter), Morné Buis (skrumskakel), Aden Jones (agtsteman), Danny Amsterdam (flank), Winston Seconds (slot) en Jose Cunha (vaskopstut) het ook 'n barshou gespeel.
Die president van SWD-rugby Hennie Baardman en sy bestuurspan verdien 'n pluimpie vir een van die beste klubfinale in jare. Die dag was 'n reuse sukses.
Lede van Progress se kampioenspan juig na afloop van die taai eindstryd. Foto: Anton Gericke
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'