Gallery
GEORGE NUUS - Dinge gaan nog vorentoe taai raak in SWD-klubrugby. Verrassings, skokke, teleurstellings, uitbundige vreugde en krokodiltrane wag op elkeen van die tien spanne wat in die Premierliga in aksie is.
Ná die eerste twee rondes lyk die verdedigende kampioen, Progress, weer na kampioenskapsmateriaal en straal die span 'n selfvertroue uit wat niks goeds vir die ander spanne voorspel nie.
Twee volpunte oorwinnings tot dusver en voorloper met 10 punte op die puntelys. Dit sal Progress se ondersteuners laat pronk. Maar, suutjies nou, dis nog vroeg in die seisoen.
Die enigste ander span wat heel tevrede kan voel met hul vordering, is Mosselbaai se Barbarians. In die tweede plek, ook met 10 punte, lyk die Baabaas in dié stadium na Progress se vernaamste teenstander.
Dis die einste Barbarians wat Evergreens (derde met 7 punte) met 33-26 geskok het. Min mense het dit verwag. Onderlangs brom die Pacaltsdorpers dat 'n blatante vorentoe-aangee (daar is 'n videogreep wat die ronde doen wat dit bevestig) hulle die wedstryd gekos het.
Maar dis gedane sake en mens kan net hoop dat nie te veel blapse deur die fluitjiebrigade spanne vanjaar gaan kelder wat dit nie verdien het nie. Hul helpers langs die kantlyn kan ook meer dikwels betrokke raak en die vlae omhoog lig as daar in die oog lopende foute op die veld begaan word.
Skeidsregters se oë en ore kan nie altyd oral wees nie, of hoe?
Foto: Anton Gericke
Moet Evergreens nie vroeg afskryf nie. Dis 'n span met 'n trotse tradisie, diepte in die klub en op die koop toe 'n paar stewige aanwinste. Dink maar aan die woelwater-flank, Francois Kemp, wat die toeskouers verlede Saterdag laat gil het van vreugde met sy kraglopies en dodelike afstampe.
Bridgton (vierde met 6 punte) is 'n ander kalant wat nog die ander spanne se kaarte mooi deurmekaar kan krap. Niemand reis na Oudtshoorn en verwag 'n piekniek nie.
As sy troepe die dag mooi in gelid marsjeer, kan Bridgton die Volstruisdorp - en sy teenstanders - se temperatuur met 'n hele paar grade opstoot.
Ja, dan is daar nog Crusaders, altyd 'n gevaarspan op sy tuisveld in Parkdene, Groot-Brakrivier, Maori's, Silver Stars en Blanco en sulke snare. Dis dié klompie wat mense geneig is om voortydig af te skryf .
Pasop. Hulle het juis baie om te bewys.
Hulle is die skokfaktor.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'