GEORGE RUGBYNUUS - Toe struikel Crusaders en Evergreens, die twee topspanne in die Mic Fin Premierliga, albei verlede Saterdag in die pylvak.
Evergreens is op Heidelberg deur die tuisspan met 38-30 begrawe terwyl Crusaders op sy tuisveld in Parkdene deur 'n onbesonge Barbarians met 27-26 verras is. Dit het die tonge in die Suid-Kaap laat klap.
En in Rosemoor het Progress sy spiere gebult teen Maori's en hulle met 59-15 afgeransel.
Met nie veel op die spel vir beide Crusaders en Evergreens nie - hulle posisies op die puntelys is immers lankal vasgemessel - was dit te wagte dat albei spanne nie met volle oorgawe aan die laaste ronde wedstryde deelgeneem het nie en hul reeds op die komende naweek se halfeindstryde toegespits het. Verskeie gereelde eerstespanspelers is ook 'n welkome ruskans gegun.
Dié uitslae krap nogal die kaarte vir die naweek se twee kragmetings netjies om. Dis nog steeds Evergreens, tweede op die puntelys, wat Progress (3de) op sy tuisveld aandurf terwyl Crusaders, die topspan, na Rosemoor moet skuif om Heidelberg (4de) daar aan te durf.
Heidelberg bly 'n tier op sy tuisveld, maar hy "toer" nie goed nie. Hoewel dit ook 'n "wegwedstryd" vir albei spanne is, is dit nader aan die huis vir Crusaders. Parkdene se spogvyftiental het 'n keuse gehad van 'n halfeindstryd op Outeniquapark of op Rosemoor. Met talle van sy ondersteuners sonder vervoer, het die klub besluit op Rosemoor wat baie nader vir sy ondersteuners is.
Die SWD-rugbyunie het vir Marquit September, puik senter van die Arende, vrygestel om dié naweek vir Heidelberg uit te draf. Dit gee hulle ekstra woema agterlangs. Crusaders gaan met 'n volsterkte span opdraf nadat hy teen Barbarians 'n hele paar gereelde eerstespanspelers laat rus het. Dit het duidelik gewys in die wedstryd teen Barbarians met talle belowende bewegings wat skipbreuk gely het weens swak hantering. Dit was te wagte.
Maar die naweek se grote is die bulstryd tussen Evergreens en Progress. Dit gaan oorlog wees.
Dalk was die nederlae vir albei topspanne 'n bedekte seën.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'