Hierdie artikel van Abrie gaan oor die bydrae van Piet Kemp oor die vyftig jaar, 1961 tot 2011 op sportgebied.
Die 76-jarige oom Piet Kemp (ek noem hom ‘oom’ uit respek en waardering) het oor die afgelope vyftig jaar, tussen 1961 en 2011, ‘n legendariese bydrae tot sport en sport as deel van die opvoeding en onderwys op George gelewer. Hy was een van daardie gemeenskapopheffende onderwyser-afrigters wat as speler op die rugbyveld, en daarna as afrigter, keurder, administrateur, organiseerder en sport- en gemeenskapsleier sy gemeenskap mooier en meer funksioneel gemaak het. Die Laerskool Manie le Roux, voorganger van Outeniqua Laer, en die Laerskool George-Suid, die George Rugbyklub en SWD Rugby, die George Gholfklub en die George Rolbalklub het almal ontsaglik baat gevind by die energieke wyse waarop Piet Kemp as speler en deler sy taak verrig het.
Piet Kemp die speler
Kemp het in 1961 begin onderwys gee aan die Laer Seunsool Manie le Roux, en was toe reeds ‘n provinsiale rugbyspeler - hy het vir Grens teen die 1960 All Blacks van Wilson Whineray uitgedraf. Dié LO-onderwyser, wat sy akademiese wortels aan die bekende Onderwyskollege Paarl (OKP) ontvang het, sou onmiddellik op die rugbyveld op George impak maak.
Hy speel sy eerste wedstryd vir die George Rugbyklub se eerste vyftiental op Saterdag 15 Julie 1961, en die George and Knysna Herald berig dat Kemp en Boet Terblanche George se twee groot aanwinste in die middel van die 1961-seisoen is, en dat Kemp ‘n deurslaggewende rol in George se 14-6 oorwinning op die dag teen Beaufort-Wes gespeel het. Die volgende naweek speel hy saam met Christie Heunis, Wesley McCarthy en William Tait, toe-vallig almal onderwysers op George, die beslissende rol in George se 5-0 oorwinning oor Oudtshoorn. Dit was die begin van ses jaar se uitstekende diens as speler aan die George Rugbyklub en kaptein van die klub.
Opening van Outeniqua Park
23 Julie 1966 is nog ‘n hoogtepunt in die sportgeskiedenis van George bereik met die opening van Outeniqua Park as sportstadion van internasionale gehalte. Die bouwerk het oor vyf jaar geloop en moes vele kere deur reënweer en verhoogde kostes onderbreek word, maar is uiteindelik vir R49 253 en 2000 plus toeskouers voltooi.
Kemp het ‘n SWD-vyftiental op die veld as kaptein teen dr. Danie Craven se Markotterspan onder leiding van die bekende SWD-senter/onderwyser van Oudtshoorn, Douw Wessels, op die veld gelei. Die SWD, met Kemp en Hennie Nieuhoudt as skakelpaar klop die Markotters, wat verskeie Springbokke in hulle geledere gehad het, met 13-5.
Outeniqua Park sou in die jare daarna ontwikkel tot die hoofkwartier van SWD Rugby en die huisvesting, vir nege seisoene, van die SA been van die Internasionale Rugbyraad se Sewesreeks.
Onderwyser-afrigter
Kemp is in 1966 na die Laerskool George-Suid en uit hom sou onder sy afrigtersleiding oor die jare tot met sy aftrede by die skool aan die einde van 1996 vele spanne en individue kom wat op Cravenweekvlak en in SWD-skolekompetisies ongelooflike prestasies gelewer het. Sy seun, Werner sou soos sy pa vir George en die SWD in die tagtigs en vroeë neëntigs uitblink en ook op die krieketveld sy dorp en provinsie verteenwoordig.
In Piet Kemp se tydfase op George het die dorp ‘n reeks uitstaande onderwyser-afrigters opgelewer wat op vele sportterreine leerders en sportmanne en -vroue van formaat help vorm het vir die lewe.
Groot tye en groot manne
Na sy uittrede as George-speler het Kemp reeds in 1967 George se eerste vyftiental begin afrig, en in 1969 wen George, soos in 1966, weer die SWD se Groot Uitdaagbeker as senior provinsiale kampioene toe Riversdal met 8-0 in die finaal geklop is.
Kemp sou ook die SWD Laerskole Cravenweekspan vir twaalf jaar na die jaarlikse nasionale toernooi brei, en die SWD Senior Rugbyspan twee keer tot Sport Pienaarkampioene afrig. Hy was ‘n aantal jaar voorsitter van die SWD Senior Keurkomitee.
Kemp sou tot sy aftrede in rugbygeledere een van daardie steunpilare wees waarop die nuwe geslag afrigters, administrateurs en sportliefhebbers kon bou.
.jpg)
Die George-span van 1969 toe Piet Kemp die afrigter was.