GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua se A- en B-rugbyspanne sal tog op 8 Augustus teen Grey Kollege in Bloemfontein uitdraf nadat die skool Donderdagmiddag bevestig het dat die toer weer op dreef is.
Die aankondiging volg slegs ure nadat die skool bekendgemaak het dat die jaarlikse toer weens finansiële uitdagings nie sou voortgaan nie.
Die aanvanklike kansellasie het groot reaksie op sosiale media ontlok, met talle ouers, oudleerders en ondersteuners wat hul teleurstelling uitgespreek het.
Later dieselfde dag het die skool bevestig dat borge ingespring het om die toer moontlik te maak.
Volgens die skoolhoof, Christo Vorster, is die verhoogde vervoerkoste die hoofrede waarom die toer aanvanklik in gedrang was.
“Die situasie in die Midde-Ooste het die vervoerkoste in Suid-Afrika drasties verhoog. Ons is dankbaar vir borge, wat nie genoem wil word nie, dat hulle hierdie spesiale geleentheid laat plaasvind,” het Vorster gesê.
In die skool se aankondiging het Vorster die borge vir hul ondersteuning bedank en om verskoning gevra vir enige ongerief wat die aanvanklike kansellasie veroorsaak het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’