GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua loop breëbors rond, want een van sy oudleerlinge Warrick Gelant (24), is deel van die Springbokke wat die Wêreldrugbybeker in Japan gewen het. Dit is die eerste keer dat 'n oudleerling van die skool die prestasie behaal.
Gelant was van gr. 8 tot 12 'n leerling aan die skool en het sy skoolloopbaan in 2013 daar voltooi. Hy is oorspronklik van Hornlee in Knysna en het destyds daar vir die SWD se Cravenweek-span uitgedraf.
Van gr. 8 tot 12 was hy elke keer die onderkaptein van die span by Outeniqua. Hy het op hoërskoolvlak ook Cravenweek gespeel. In 2012 en 2013 was hy lid van die SA skolespan waar hy saam met die Springbok-losskakel, Handré Pollard uitgedraf het. Piet Cloete, adjunkhoof en sporthoof van Hoërskool Outeniqua, het Dinsdag gesê die skool is trots op Gelant. Tydens sy jare by Outeniqua was hy een van die staatmakers in die skool se eerste span.
Cloete is nie verras oor Gelant se prestasies op die rugbyveld nie. Hy het destyds al gesê Gelant het die potensiaal om eendag die groen en goud te dra. Hy het geen twyfel dat Gelant sy plek in die span verdien het nie.
Gelant het reeds verlede jaar die hoogste eerbewys vir oudleerlinge van die skool ontvang.
Cloete het tydens die toernooi kontak gehad met Gelant. "Hy was baie positief en het gesê dit was 'n ongelooflike ervaring."
Volgens Cloete gaan die skool Gelant nooi om besoek af te lê wanneer sy program dit toelaat.
Die vleuel S'bu Nkosi en Warrick Gelant spog met die Webb Ellis-beker en hul goue medaljes tydens die Springbokke se landwye kampioenetoer.
Foto: Facebook/Warrick Gelant
Eleanore Bouw Spies, DA-parlementslid en inwoner van Knysna Maandag saam met Warrick Gelant by die parlement toe die Springbokke Kaapstad besoek het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'