GEORGE RUGBYNUUS - Daar is groot opgewondenheid in die Van der Merwe-huishouding in George, nadat Duhan van der Merwe gekies is om Skotland Vrydagaand teen Georgië in 'n rugbytoetswedstryd te verteenwoordig.
Die 25-jarige Van der Merwe kom oorspronklik van George en het in 2013 sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Outeniqua voltooi. Daar het hy onder meer saam met die Springbok, Warrick Gelant vir die skool se eerste span uitgedraf.
Hy en Gelant het ook saam in die SA Skolespan in 2012 en 2013 gespeel. Van der Merwe het in 2014 ook vir die Junior Bokke uitgedraf in die o.20 Wêreldbekertoernooi.
Rugbytalent loop diep in die familie want sy ouer broer, Akker (jr.) het al vir die Springbokke gespeel en is bekende in Suid-Afrikaanse rugbykringe. Sy oupa, wyle Akker (sr.) van der Merwe het ook destyds vir die SWD uitgedraf.
Duhan se pa, Alhan van der Merwe het Donderdag (22 Oktober) aan George Herald gesê die familie is baie trots op Duhan.
Hy het in 2016 na Skotland gegaan om sy rugby-heil daar te gaan soek. Hy sal op Murrayfield, Edinburgh, op vleuel uitdraf.
Volgens Alhan sal die familie ongelukkig nie more-aand die wedstryd kan bywoon nie, maar hulle sal dit beslis op televisie kyk.
Alhan het gesê Duhan is baie opgewonde oor die wedstryd. "Hy het hard gewerk vir die doelwit."
Piet Cloete, adjunkhoof sport van die Hoërskool Outeniqua, het gesê die skool is trots op Duhan.
Cloete was destyds die afrigter van die skool se eerste span toe Duhan daar gespeel het.
"Duhan het eers laat sy rugbytalente ontwikkel. Hy het baie hard gewerk. Ons het altyd gedink hy sal dit ver bring."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'