TUINROETE NUUS - Die nuwe jaar is nog nie eers 'n maand oud nie en daar is reeds groot dinge aan die gebeur in SWD-rugby. Die SWD Arende het 'n nuwe afrigtingspan en daar is ook 'n nuwe bedeling vir die baie gewilde klubrugby.
Zane Kirchner is die nuwe breier, en hy sal deur sy mede oud-Springbok, Anton Leonard bygestaan word. Ook in die afrigtingspan is Shaun Raubenheimer, 'n voormalige kaptein van die Arende en Earl Manie.
Kirchner, wat sterk bande met George het, kom in die plek van Anton Moolman wat groener weivelde in Stellenbosch gaan soek. Hy is nog tot Saterdag 27 Januarie by die span.
Sy kontrak by die Arende sou tot die einde van die huidige seisoen geld. Moolman sluit by UXI aan wat onder meer Africa Skills besit. Hy sal ses rugbyakademies van die instansie vanaf 1 Februarie bestuur.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het Kirchner se aanstelling bevestig.
Volgens Brinkhuis het Moolman in Desember aangedui dat hy 'n nuwe permanente werksgeleentheid gekry het en het gevra dat sy laaste dag by SWD aan die einde van Januarie sal wees. "Ons het dit aanvaar."
Daar is besluit om Kirchner, wat die hulpafrigter vir agterspelers is, aan te stel. Hy behou die verantwoordelikheid.
Voorbereidings vir die nuwe seisoen het reeds begin en om kontinuïteit te verseker is ooreengekom dat Moolman nog tot einde Januarie by die Arende sal bly.
Die Arende neem vanjaar aan twee kompetisies deel: Die SA Cup en die eerste divisie van die Curriebekerreeks.
Hy het net lof gehad vir Moolman. "Daar is geen kwade gevoelens nie. Ons is jammer om hom te verloor. In die twee jaar wat hy afrigter was, het hy uitstekende werk gelewer. Onder die hoogtepunte is 'n halfeinstryd in die eerste divisie van die Curribekerreeks en 'n eindstryd in die Mzansi-reeks."
"Ons wens hom sterkte toe."
Brinkhuis het gesê hy is vol vertroue dat die Arende goed sal doen onder Kirchner en sy afrigtingspan. "Hulle het ons volle steun."
Wat sê Zane?
Kirchner is bekend as iemand wat nie grootpraat en spog nie. Vir baie is hy 'n man van min woorde wat eerder doen. Hy het die afgelope Maandag die spelers deur hul passies geneem. Kirchner sal later meer besonderhede oor sy planne bekendmaak.
Kirchner het sterk bande met George en het destyds sy skoolloopbaan hier voltooi. Hy het twee jaar gelede hulpafrigter met die verantwoordelikheid van agterspelers geword.
In 'n kort gesprek met George Herald het hy gesê hy sien uit na die nuwe uitdaging. Hy sien dit as 'n geleentheid. Hy ken die werksomgewing en die spelers. Hy glo die span sal goed doen. "Ek is nie iemand wat spog nie. Ek aanvaar die uitdaging intern en maak dan die beste daarvan."
Anton Moolman oor sy weggaan
Moolman het gesê hy het goeie verhoudinge met SWD-rugby gebou. "Ek het aanbeveel dat Zane oorneem. Ek het volle vertroue in hom en sy bestuurspan. Om weg te gaan was vir my 'n moeilike besluit om te neem."
Strukture is in plek en 33 spelers is vir die nuwe seisoen gekontrakteer.
As hy terugkyk na rugby in SWD is daar twee aspekte.
Klubrugby: Dis gesond in terme van toeskouers en spelergetalle. 'n Bron van kommer is dat daar geen o. 20-kompetisie is nie. Daar sal gekyk moet word na 'n akademie opset om seker te maak daar is kontinuïteit. Dit kan verseker dat junior spelers deurgaan na die senior vlak.
Provinsiale vlak: "Dit het baie gegroei." Die spelers sien hulself nou as beroepspelers.
Hy sien uit na sy nuwe uitdaging en sy posbenaming is nasionale programdirekteur.
Dit was 'n goeie aanbod en bied aan hom 'n geleentheid om te groei. Dis 'n permanente pos.
Die Arende en hul afrigtingskorps Maandag by Outeniquapark. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’