GEORGE NUUS - Maandag 3 Julie is D-dag wanneer die o. 18 Cravenweek vir skole in George begin.
Altesaam 16 spanne vanoor Suid-Afrika neem aan die jaarlikse geleentheid deel. Die spanne meld Sondag by Hoërskool Outeniqua aan. Die geleentheid is deel van die skool se vieringe vir sy 100-jarige bestaan.
Al die wedstryde vind by Outeniquapark plaas, behalwe vir enkele wedstryde op Saterdag 8 Julie wat op een van die skool se velde gespeel word.
Vanoggend, 29 Junie, was Outeniquapark in rep en roer. Finale opknappings is by die stadion gedoen.
Renault Southern Cape het ook gerief motors aan die organiseerders beskikbaar gestel wat deur ondersteuningspersoneel vir die duur van die geleentheid gebruik sal word.
Chris Koen, bestuurder van Renault Southern Cape, het gesê die maatskappy doen dit graag. Die maatskappy het takke in George, Mosselbaai en Knysna. “Ons wil terugploeg in die gemeenskap. Die Cravenweek is ‘n groot geleentheid. Dit word deur baie mense vanoor Suid-Afrika bygewoon.”
Martin de Vos, woordvoerder van die organiseerders, het gesê dis vir hulle belangrik om goeie verhoudinge met die plaaslike sakegemeenskap te hê. “Die beskikbaarstelling van die voertuie sal bydrae tot die suksesvolle aanbied van die toernooi.
“Alles is op koers.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’