GEORGE RUGBYNUUS - Hy is aangenaam verras met die potensiaal van die groep junior spelers van George wat verlede Saterdag op Heidelberg teen Hessequa in die SWD Munisipale-uitdaagreeks in aksie was.
Jerome Muller, hoofafrigter van George se munisipale span, het in 'n onderhoud met die George Herald gesê van die jong spelers wat uit die geledere van die Presidentsliga en die Kusstreek getrek is, het beslis hul hande opgesteek.
"Die oomblik was geensins te groot nie en van dié spelers het selfs die pas aangegee. Dis baie bemoedigend vir klubrugby in die SWD dat ons oor soveel talent beskik."
Een van die vereistes van die Munisipale-uitdaagreeks, wat die SA Rugbyunie (Saru) pas in die SWD geloods het, is dat munisipale spanne 60% van hul spelers uit die Premierliga-klubs in hul onderskeie streke kan kies en die oorblywende 40% uit spelers wat in die Presidents- en Kusstreek-liga deelneem, moet aanvul.
Dis om spelers in die laer ligas kans te gee om op 'n hoër vlak mee te ding en hul potensiaal só te ontsluit.
As dié uitdaagreeks suksesvol afloop, gaan Saru dit in 2020 na die res van die land uitrol om nuwe woema aan klubrugby te gee. Muller sê hy en sy hulpafrigter, Theo Roodman, het nie juis veel kans gekry om George se span voor te berei nie.
"Tot oormaat van ramp kon ons nie die spelers van Crusaders en Evergreens, wat mekaar nog twee weke gelede in die Premierliga-eindstryd gepak het, oorweeg nie.
"Daarom is ons tevrede dat George, ten spyte van gebrekkige oefentyd en die onbeskikbaarheid van topspelers, steeds daarin kon slaag om Hessequa met 46-31 te klop."
Dié span is aangevoer deur Progress se woelige haker, Xavier Scholtz.
Muller sê dinge sal vandeesweek beter gaan met Evergreens en Crusaders se bulle wat nou beskikbaar is. "Ons het 'n oefengroep van 35 spelers aangewys wat op Dinsdae en Donderdae gaan oefen. Nou kan ons werk aan 'n spelpatroon en skaaf aan foute, soos swak hantering en gebrekkige samespel, wat in die eerste wedstryd kop uitgesteek het.
Hy hoop ook dat die George-munisipaliteit, soos sy eweknie op Knysna, op groter, tasbare wyse betrokke sal raak. Dis immers die loodsprojek van dié Munisipale-liga met die SWD wat deur Saru uitgesonder is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'