Die plaaslike NMMU-span het sesde uit 21 spanne geëindig en in die proses drie Varsityskild-spanne geklop. Boonop het hulle bo hul eweknieë van Port Elizabeth klaargemaak.
Op dag een van die jaarlikse toernooi het NMMU met die Tshwane Universiteit van Tegnologie (24-0), die CPUT (10-5) en Fort Hare (29-0) in Groep A afgereken en met 19-5 teen die huidige kampioen, Universiteit Stellenbosch (Maties), verloor. Twee van die spanne wat hy geklop het, speel in die Varsityskild-kompetisie om sodoende deur te dring na die Bekerafdeling.
Op dag twee het NMMU teen die Universiteit van Johannesburg (UJ) met 43-7 in die Beker-kwarteindstryd verloor. Maar hul oorwinning oor nog 'n Varsityskild-span, die Universiteit van Wes-Kaapland, het verseker dat die NMMU na die finaal van die Plaatafdeling deurdring. Ongelukkig was die Universiteit van Potchefstroom (Pukke) net te sterk en is hulle met 35-12 geklop.
Jerome Fillies met sy nege drieë was NMMU se speler van die toernooi. Ettiene Janse van Rensburg was 'n yster en het die span van vooraf gelei. Ander uitblinkers vir NMMU was Louise Hamman (3 drieë), Creswin Josephs, Dean January, Shannon Burger, Kutelani Tshavasi en 'n leenspeler van die NMM se PE-kampus, Abdul Jappie.
Die span is deur Henry Grimes, Darrel Coeries en Wane MacAfee afgerig en die spanbestuurder was André van der Westhuizen.
NMMU George het na die finaal van die Plaatafdeling van USSA se sewesrugbytoernooi deurgedring waar hulle deur die Pukke geklop is. Agter van links: Henry Grimes (afrigter), Kutelani Tshivhase, André van der Westhuizen (bestuurder), Zander Schoeman, Etienne Janse van Rensburg, Jerome Fillies, Louis Hamman, Brandon Hulley. Voor: Dean Peter January, Simon Snyman, Abdul-Gasiep Jappie, Creswin Josephs, Shannon Burger, Andre van Wyk, Luther Esau and Darryl Coeries (afrigter). Foto: Kelvin Saunders
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'