MOSSELBAAI NUUS - Eerskomende Saterdag, 30 Mei, word daar weer groot klubrugby op die Van Riebeeck Sportgronde aangebied wanneer twee groot Premierliga rugbyklubs, Mosselbaai Rugbyklub en die studente van NMMU, kragte gaan meet.
Hierdie twee spanne sorg altyd vir kookwater klubrugby en sal Saterdag geen uitsondering wees nie en moet nie gemis word nie.
Alle ondersteuners van Mosselbaai word hartelik deur die gasheerklub, Mosselbaai Rugbyklub, uitgenooi om die dag saam met hulle te kom geniet.
Die rugby beloof om opwindend te wees en die Super Rugby wedstryde sal weer eens op die groot skerm in die Klubhuis vertoon word.
Mosselbaai Rugbyklub is besig om sterk na vore te tree as een van die gunstelinge om vanjaar in die Premierliga uitspeelwedstryde betrokke te wees en sal graag wil seker maak dat die studente nie hul poging kom ontspoor nie.
Albei spanne het blitse in die agterlyn wat, as hul 'n bietjie ruimte kry, die bal met groot vaart tussen mekaar kan rondgooi vir opwinding agterlangs en die voorspelers van albei spanne het hulself alreeds in die liga laat geld.
Dus gaan daar geen tekort aan totale rugby wees nie en kan daar uitgesien word na 'n heerlike dag met 'n feestlelike atmosfeer.
Drie spanne van die klubs sal in aksie wees met die derde spanne wat reeds om 13:30 sal afskop.
Dit sal gevolg word deur die tweede spanne en daarna om 16:00 sal die eerste spanne opdraf om die dag se rugby af te sluit.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'