GEORGE NUUS - Die Wêreldbekerrugbytoernooi wat op 8 September in Frankryk begin, kan moontlik meer as gewone belangstelling in George lok.
Twee oudleerlinge van Hoërskool Outeniqua (Kwaggas), Manie Libbok en Duhan van der Merwe sal moontlik kragte meet. Libbok draf uit in die groen-en-goud terwyl Van der Merwe vir Skotland sal opdraf.
Libbok, losskakel, wat sy skoolloopbaan in 2015 by Kwaggas voltooi het, is deel van die Springbokgroep wat aan die toernooi deelneem.
Van der Merwe wat in 2013 by die skool gematrikuleer het, is gister (Woensdag 16 Augustus) in Skotland se groep vir die WB-toernooi ingesluit. Dit is dus moontlik dat Libbok en Van der Merwe teen mekaar te staan gaan kom in Suid-Afrika en Skotland se eerste wedstryde op 10 September.
Die toernooi begin op 8 September met die openingswedstryd tussen die gasheer, Frankryk en Nieu-Seeland.Piet Cloete, onderhoof: sport by die skool, het Dinsdag 15 Augustus, gesê dit sal nogal interessant wees as die twee teen mekaar speel.
Hy was tydens skoolrugby by beide se afrigting betrokke en ken hulle goed. Hulle het op skool in verskillende ouderdomsgroepe vir die skool se spanne uitgedraf en toe nooit teen mekaar gespeel nie.
Volgens Cloete was Libbok by Kwaggas in 2014 en 2015. Hy het in beide die jare die SWD Cravenweekspan gehaal. In 2015 het hy ook die SA skolespan gehaal.
Na skool het Libbok draaie gemaak by die Blou Bulle, die Haaie en die Stormers.
Dit is in sy tyd by die Stormers waar hy tot sy reg gekom het. "John Dobson, afrigter van die Stormers, se spelpatroon pas hom."
Volgens Cloete het hy destyds op skool die eerste span afgerig waarin Libbok gespeel het. "Ek het van die begin gesien hy het spesiale vaardighede. Martin Oosthuizen was destyds die agterlynafrigter. Hy het ook onmiddellik gesê Manie het die vermoë om eendag 'n Springbok te word. Dit was reeds toe hy hier op skool was vir my duidelik dat hy eendag 'n Springbok sal word."
Volgens Cloete is Libbok se sterkpunte onder meer dat hy ewe goed met sy linker- en regtervoete kan skop. Sy balverspreiding is ook goed."
Oor kommer by sommige rugbyondersteuners dat hy nie druk sal kan hanteer tydens 'n geleentheid soos die WB-toernooi nie, het Cloete gesê dis onnodig.
"Manie het al by die Stormers gewys wat hy kan doen. Hy kan maar gekies word en hy sal nie die Springbokke in die steek laat nie."
Cloete het gesê die skool is baie trots op Libbok en ook Van der Merwe wat die Skotse span gehaal het. "Ons is ook verheug oor Duhan se insluiting."
Warrick Gelant, ook 'n oudleerling, was in 2019 deel van die Springbokgroep wat die WB-toernooi in Japan gewen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’