GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua (Kwaggas) loop breë bors rond nadat 'n oudleerling Manie Libbok, op die plaasvervangersbank vir die Springbokke gekies is wat Saterdag teen Frankryk in Marseille speel.
Libbok is deel van die Springbok-rugbygroep wat tans in Europa toer. As hy Saterdag speelkans kry, sal dit sy eerste toets in die groen en goud wees.
Die nuus het vroeg Dinsdagmiddag, 8 November, bekend geword en daar is vooraf wyd gespekuleer dat Libbok deel van die span se nuwe planne kan wees. Die Springbokke het die afgelope Saterdag teen Ierland gesukkel met hul skopwerk pale toe.
Piet Cloete, sporthoof van Outeniqua, het Dinsdag gesê hy is verheug oor die nuus. Libbok was in 2014 en 2015 'n leerling by die skool. Hy kom oorspronklik van Uitenhage en was daar in HTS Daniël Pienaar.
"Sy voog wou hom skuif na 'n skool wat hom meer geleenthede bied en het ons gekontak."
Libbok het in 2014 en 2015 vir Kwaggas se eerste span, sowel as SWD Cravenweek uitgedraf. In 2015 is hy gekies vir die SA skolespan wat teen Wallis, Frankryk en Engeland gespeel het. In 2016 en 2017 was hy ook lid van die SA o. 20-span oftewel die Jong Bokkies.
Tydens sy speeljare by die Kwaggas is hy afgerig deur Cloete, Martin Oosthuizen en Braam Tukker. In daardie tyd het Libbok al losskakel gespeel.
Volgens Cloete het hulle destyds al gedink Libbok sal groot hoogtes bereik. "Manie is baie talentvol en veelsydig. Ons het veral met sy insluiting in die SA skolespan in 2015 besef hy staan 'n goeie kans om rugby sy loopbaan te maak."
Cloete het met Libbok gesels sedert dit bekend geword het dat hy in die Springbok-groep ingesluit is. "Hy is baie dankbaar en sien regtig uit daarna om eendag die groen en goud oor sy kop te trek. Hoërskool Outeniqua is regtig baie trots op ons nuutste Springbok en ondersteun hom ten volle."
Oor Libbok se sterkpunte het Cloete gesê: "Manie kan ewe goed met beide voete skop. Sy voetwerk en handvaardighede is uitstekend. Hy lees 'n wedstryd baie goed."
Hy het gesê Manie het dit nie altyd maklik gehad in sy lewe nie en daarom is hy baie nederig en op sy plek. "Hy het 'n passie vir rugby en leef dit ten volle uit."
Libbok volg in die voetspore van ander oudleerlinge van die skool wat ook Springbokke geword het. Hulle is Faan Conradie, Johan Heunis, Marco Wentzel, Akker van der Merwe en Warrick Gelant.
Voormalige afrigters van Libbok sê sy voetwerk en handvaardighede is uitstekend. Hy kan 'n wedstryd ook baie goed lees. Hierdie foto is verlede week tydens 'n oefensessie in Ierland geneem. Foto: Brendan Moran/Sportsfile/Gallo Images
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'