Video
RUGBY NUUS EN VIDEO'S - As deel van hul motivering vir die eindstryd in die Premierliga het die span van Groot-Brakrivier vooraf geoefen om hul arms om hoog te hou vir wanneer hulle die beker ontvang.
Selfs Saterdagmiddag, 11 November, op pad na Outeniquapark vir die wedstryd teen Heidelberg het die spelers in die bussie hul arms omhoog gehou terwyl hulle gesing het.
Deur die loop van die jaar het hulle dit verskeie kere gedoen en ook by die kapteinsoefening vir die eindstryd. Dit was alles danksy die inspirerende leierskap van hul afrigter, Johann Lerm.
Lerm, voormalige afrigter van die SWD Arende, kan nou ook by sy lang lys van prestasies byvoeg afrigter van 'n kampioenspan in die Premierliga. Benewens die prestasie is hy ook bekend as predikant, skrywer van boeke en radio-omroeper.
Sondag 12 November, minder as 24 uur na sy span se oorwinning teen Heidelberg, was hy weer op die preekstoel om die Woord te bedien in Dysselsdorp.
Lerm het op sy dag self rugby gespeel en as haker vir die destydse Verre Noord uitgedraf.
Hy was in die verlede ook in die polisie. Daar het hy onder meer opleiding gegee en as speurder booswigte vasgetrek.
Maandag 13 November het hy by sy huis vertel van die baie interessante jaar wat hy agter die rug het. Teen die einde van verlede jaar het Groot-Brakrivier-rugbyklub hom genader om as afrigter op tree. "Ek het besluit om dit 'n kans te gee. My doelwit was om die spelers en die afrigterskorps te bemagtig.
"Ek het nie eers gedink aan bekers nie."
Hy het dadelik begin om strukture in plek te sit. Aanvanklik het dit nie goed gegaan nie en die span het 'n aantal wedstryde verloor. Later het dit baie beter gegaan.
Vir elke wedstryd het hy 'n eie unieke plan gehad. Hy het ook vooraf behoorlik huiswerk oor die teenstanders gedoen.
Lerm het dit gou by die spelers laat posvat dat hulle kan wen en hulle laat oefen om hul arms omhoog te hou vir wanneer hulle die eindstryd wen.
Hy het benadruk dis 'n spanpoging van die spelers, die afrigtingskorps, die bestuur en die gemeenskap.
Hy het geglo die span kon Saterdag wen. Veral toe die span onlangs in die halfeindstryd teen alle verwagting vir Crusaders geklop het en na die eindstryd deurgedring het.
Volgens hom is 'n groot deel van die span se sukses ook te wyte daaraan dat hulle in mekaar geglo het.
VIDEO - Johann Lerm, afrigter van Groot-Brakrivier rugbyklub:
Video: Eugene Gunning
Johann Lerm tuis voor sy rekenaar. Vir elke wedstryd het hy 'n wedstryd plan gehad. Foto: Eugene Gunning
Dit was ook 'n geloofsaak.
Oor die toekoms het hy gesê aanvanklik was die plan om net 'n jaar af te rig, maar nou die brand die afrigtingspassie weer. "Solank as my gesondheid goed is en hulle wil my hê sal ek aanhou."
Vir die span wag opwindende tye. Hulle gaan aanstaande jaar onder meer meeding in die Gold Cup ('n nasionale kompetisie) en die Saldanha Paastoernooi.
Hy wil ook nog skryf en voortgaan met sy omroeperswerk. En natuurlik sy groot liefde: Om die Woord te bedien.
VIDEO - Groot-Brakrivier se span Saterdag oppad na die stadion vir die eindstryd. Hier oefen hulle om hul arms omhoog te hou. Video verskaf:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’