TUINROETE RUGBYNUUS - Groter duidelikheid oor wanneer mededingende klubrugby in die SWD weer gespeel sal word, kan vanaand, 8 April, tydens 'n vergadering van die SWD-rugbyunie se voorsittersforum verkry word.
Die vergadering vind in George plaas. Dit is Dinsdag deur Hennie Baartman, president van die unie, bevestig.
Die aangeleentheid sal bespreek word en kom teen die agtergrond dat amateurrugbyspanne met kontakoefening kan begin. Die Suid-Afrikaanse rugbyunie het reeds aan klubspanne op o.19 vlak en op, toestemming gegee om met kontakoefeninge te begin.
Na verwagting sal vanaand se vergadering bygewoon word deur verteenwoordigers van al 63 klubs in die streek.
Baartman het benadruk dat geen finale besluit nog geneem is nie. Die vergadering sal 'n besluit moet neem of die klubs dit kan bekostig. Die voorsittersforum sal aanbevelings aan die bestuur maak en die klubs sal die finale besluit neem.
"Ons wil duidelikheid van die klubs hê of hulle die Covid-19-regulasies sal kan bekostig," het Baartman gesê.
Volgens hom moet in gedagte gehou word dat toeskouers nie by wedstryde toegelaat sal word nie. Toeskouers is die hoofbron van inkomste vir van die klubs. Van die klubs het die afgelope jaar reeds swaar finansiële verliese gehad. Daar is in Maart 2020 laas mededingende klubrugby in die streek gespeel.
Daar is reeds klubs wat aan die unie aangedui het hulle sien nie hul weg oop om in die huidige omstandighede te speel nie. Dit is onder meer as gevolg van die gesondheidsrisiko's wat gepaard gaan met Covid-19 en die gebrek aan inkomste.
Baartman sê hy kan nie die vergadering vooruitloop nie, maar as dit die groen lig kry, sal dit gewone klubkompetisie wees.
Hy het gesê daar is 'n "honger" by sommige spelers om weer te speel, maar dit is nie noodwendig die standpunt van die klubs se bestuur of hulle dit kan bekostig om te speel nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'