Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Inwoners en besoekers aan George kry van 3 tot 8 Julie 'n geleentheid om 'n blik te kry op die toekoms van Suid-Afrikaans rugby wanneer die o.18 Cravenweek aangebied word.
Dit word by Hoërskool Outeniqua aangebied en val saam met die skool se 100-jarige feesvieringe.
Drie instansies, die skool, SWD-rugby en die George-munisipaliteit snoer kragte saam om die geleentheid aan te bied.
Altesame 16 spanne vanoor Suid-Afrika gaan deelneem. 'n mediageleentheid is Maandag 29 Mei by die skool gehou en verteenwoordigers van al drie die instansies was teenwoordig. Dit was duidelik dat alles op koers is om 'n groot sukses daarvan te maak.
Christo Vorster, hoof van Kwaggas, het by die geleentheid gesê dis nie die eerste keer dat die Cravenweek in George aangebied word nie. Dit is wel die eerste keer op die skoolterrein.
"Dis 'n groot voorreg vir ons en ons werk goed saam met die ander instansies wat betrokke is. Ons glo dit gaan 'n groot sukses wees."
VIDEO: Kom kyk na toekomstige Springbokke
Dit gaan baie vir die gemeenskap beteken.
Wedstryde sal onder meer van die Maandag tot die Donderdag gespeel word. Altesaam vier wedstryde sal op elkeen van die dae gespeel word en wedstryde sal soggens om 9:00 begin.
Daar is geen aandwedstryde nie. Die Saterdag is daar agt wedstryde en daar sal op nog 'n veld by die skool gespeel word. Die Vrydag is 'n rusdag.
Volgens Vorster het die skool die kapasiteit om so 'n geleentheid te kan aanbied. Die skool het ervaring met sulke geleenthede en bied elke jaar 'n junior rugbyweek aan waarby 46 spanne betrokke is.
Die spelers sal by Kwaggas se koshuise en die nabygeleë Van Kervel skool se koshuise tuisgaan. Dit is dus stapafstand na die veld. "Dit sal 'n lekker atmosfeer van bymekaar wees skep."
Toeskouers is welkom en daar is plek vir tussen 4 000 en 6 000 toeskouers elke dag.
Ben Brinkhuis, president SWD-rugby, het sy dank teenoor SARU uitgespreek om die toernooi na George te bring. "Ons sien baie uit daarna."
Na die geleentheid sal 'n SA skolespan gekies word. "Die spelers sal beslis iets hê om voor te speel."
Benewens die spelers sal ondersteuningspersoneel, rugbyadministrateurs en talentsoekers ook die geleentheid bywoon.
Rodney Thomas, voorsitter van SWD-hoërskolerugby, het gesê die seuns sien baie uit na die geleentheid. "Dit gaan 'n positiewe aanmoediging vir die kleintjies wees om die seniors in aksie te sien."
Dirk Wessels, burgemeesterskomiteelid van die George-stadsraad, het gesê die ekonomiese inspuiting van 'n Cravenweek is onbeskryflik.
"Die Cravenweek is vir jare al die vlagskip sporttoernooi in Suid-Afrika. Vir George om as 'n stad vertoonvenster te wees is ongelooflik.”
Volgens hom sal daar by George-toerisme aanhou gepoog word om die tipe toernooie na George te lok. Dit is om te verseker dat 'n platform geskep word waar toerisme kan floreer.
Verteeenwoordigers van instansies wat betrokke is by die reëlings vir die o.18 Cravenweek het Maandag by Hoërskool Outeniqua bymekaargekom. Van links is Ig van der Merwe, Dirk Wessels, Rodney Thomas, Ben Brinkhuis en Christo Vorster. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’