RUGBY NUUS - Dis nie aldag dat iemand eers vir sy provinsiale rugbyspan uitdraf en daarna oorweeg word vir sy klub nie. Dis presies wat met Keith Syster, wat oorspronklik van George kom, gebeur het.
Dié 18-jarige rugbyspeler het die afgelope Saterdag vir die WP se o. 19-span teen die Sharks in Kaapstad gespeel.
Sy lewe het die afgelope paar weke drasties verander. Dit was danksy die betrokkenheid van 'n paar mense wat sy belange op die hart dra.
Hy het nog verlede jaar op die gr. 12-banke van Hoërskool Outeniqua gesit en vir die skool se eerste span uitgedraf. Hy was verlede jaar een van die span se voorste driedrukkers en het ook die SWD Cravenweekspan gehaal.
Pastoor John Smith, wat 'n groot rol in sy nuwe loopbaan speel, het Maandag 8 Mei vertel hy ken Syster al meer as 10 jaar.
Syster is betrokke by die kerk JCI, George waar Smith 'n leraar is. Syster is al in die gemeente betrokke vandat hy op Conville Primêr was. Daarna was hy vir 'n kort rukkie in George High en toe is hy na Hoërskool Outeniqua. Syster speel gewoonlik vleuel, maar hy kan ook senter speel.
Smith het vertel dat hy Syster weer in Januarie gesien het. "Ek het toe gewonder wat hy doen." In 'n stadium het Syster by een van die plaaslike klubs geoefen om in oefening te bly.
Smith het besef dat Syster se rugbytalente nie verlore kan gaan nie en voelers uitgesteek na 'n paar provinsiale spanne en klubs. Onder hulle is Hamiltons, een van die oudste klubs in Suid-Afrika. Hy het ook videogrepe van Syster se spel vir hulle gestuur.
Daar is ook voelers uitgesteek na die Universiteit van Stellenbosch. Dit was ongelukkig te laat en die plan is dat hy aanstaande jaar regte daar gaan studeer.
Hamiltons het intussen aangedui dat hulle belangstel en middel April het hy daar ingeval. Hy is ook opgeneem in die o. 19 WP-groep en het Saterdag sy eerste wedstryd vir die span gespeel.
Smith het sy dank uitgespreek teenoor dr. Dennis Farrell, bekende sakeleier en Mervin Hendricks, een van die afrigters van die George-rugbyklub vir hul rol.
Volgens hom het hy altyd gedink Syster sal dit ver bring. "Hy het die potensiaal om eendag vir die Springbokke te speel."
Syster het gesê ongelukkig het hulle Saterdag 32 - 31 verloor. "Dit was 'n taai wedstryd."
Volgens hom voel alles nog onwerklik." Ek beskou dit as die begin van alles. Ek sal graag eendag vir die Springbokke wil speel."
Sy familie in George is baie trots op hom.
Piet Cloete, sporthoof van Hoërskool Outeniqua, het gesê benewens Syster het Camden Schoeman en Patrick Kitete ook die WP-span gehaal. Al drie is oudleerlinge van die skool. Hulle het almal verlede jaar vir die skool se eerste span uitgedraf en ook Cravenweek gespeel. "Ons is bly dat hulle die geleentheid kry om die vlak te speel."
Keith Syster in sy WP-trui.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’