GEORGE NUUS - Om op hul louere te rus, is daar nie sprake by die SWD o.21-span, oftewel die Jong Arende nie.
Die span het wel afgelope Saterdag 28 - 25 met die OP o.21-span in Dispatch afgereken, maar nou wag Griekwas môremiddag, 16 September, op Outeniquapark. Die wedstryd begin om 15:30 en toeskouers is welkom.
Dit is die Jong Arende se vierde wedstryd in SA Rugby se o.21-skildreeks. Die Jong Arende het hul eerste wedstryd in die reeks teen die Pumas gewen. Die tweede teen die Valke in Brakpan het hulle met 36 - 27 verloor.
Daar is nog twee wedstryde vir die Jong Arende oor. Benewens Griekwas is daar nog 'n wedstryd teen die Griffons op 30 September ook om 15:30. Beide is tuiswedstryde.
Die uitspeelwedstryde in die reeks vind in Oktober plaas. Die halfeindronde en eindronde is vroeg in Oktober.
Gerwyn Alexander, afrigter van die Jong Arende, het Maandag 12 September, gesê die wedstryd teen OP was 'n harde wedstryd in baie winderige toestande.
Die Jong Arende en hul spanbestuur Saterdag kort na hul oorwinning in Dispatch.
Die Jong Arende was gelukkig om die wedstryd deur te trek. Volgens hom was die wedstryd vir die grootste deel op 'n mespunt.
Van die spelers het beserings tydens die wedstryd opgedoen. Een het sy kakebeen gebreek en 'n ander een het 'n redelike ernstige rugbesering opgedoen.
Oor môre se wedstryd het hy gesê, Griekwas is altyd 'n harde neut om te kraak. Griekwas het nog nie vanjaar 'n wedstryd in die reeks gewen nie en sal baie graag die bordjies wil verhang teen die Jong Arende.
Die reeks word op dieselfde basis as die Curriebekerreeks beslis. Daar word net een ronde wedstryde gespeel. Daar is ook 'n halfeindronde en 'n eindronde. Benewens die SWD en die Pumas speel die Griffons, OP, Griekwas en die Valke ook in die reeks.
Van die OP-spelers probeer om 'n speler van die Jong Arende grond toe te bring.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'