Gallery
GEORGE NUUS - Die Arende se o.20-rubyspan het Vrydagmiddag op Outeniquapark sy rieme styf geloop teen die begeesterde Griekwas. Die Poubloues het met 34-20 gewen nadat hulle rustyd reeds met 19-10 voor was.
Dit was SWD se derde nederlaag in 12 wedstryde en die tekens van oorgerustheid het hul duur te staan gekom. Hulle is tans tweede op die punteleer met 44 punte en met nog twee ligawedstryde oor, kort hulle net vyf punte om 'n tuishalfeindstryd te verseker.
Die Jong Arende sal egter nie nou kan slap lê na so 'n uitstekende seisoen nie. Die afrigters het ook 'n paar spelers, wat min gespeel het die seisoen, speelkans gegee en 'n mens kon duidelik sien dat hulle verroes was.
Griekwas verdien egter 'n pluimpie vir die manier waarop hulle die Jong Arende laat les opsê het met die bal in die hand.
Hulle het vyf pragdrieë gedruk teenoor drie.
Min opwindende rugby is vir 70 minute gesien, maar die laaste 10 minute het hulle krane oopgedraai en twee drieë gedruk, maar toe was dit reeds neusie verby.
Daar was min uitblinkers, maar agterlangs was dit weereens die vurige skrumskakel, Aiden Josephs wat hard probeer het.
Hy is voorlangs goed bygestaan deur Graham Botha (flank) wat uitstekend in die lynstane en vastelos vertoon het.
"Ons sal baie hard moet werk in die laaste twee weke voor die uitspeelrondes. Ons beleef 'n skitterende seisoen en kan nie nou slap lê nie," het Eddie Myners, hoofafrigter van die Jong Arende, na die wedstryd aan die George Herald gesê.
Puntemakers
SWD o.20 20 (10): Drieë - Adriaan Lee du Preez (haker), Willem Coetzee (slot), Maurice Alexander (linkervleuel), Ronaldo Fortuin (heelagter) slaag met 'n doelskop en 'n strafdoel.
ARTIKEL EN FOTO'S: HUGO REDELINHUYS, SPORT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'