GEORGE NUUS - Die vertoning Asem, wat Vrydagaand 2 Oktober by die Attic Atelier in George aangebied is, het die nuwe digbundels Ontrafel van Stef Kruger en Tussen Asem van Hannes Visser op 'n vars en besonderse manier aan die gehoor bekendgestel. Deur musiek, sang en voorlesing het die gedigte van die bladsy af geklim en op die verhoog lewe gekry.
Woord en musiek
Petronel Baard van Lang Vrou Produksies het Kruger en Visser se werk met haar eie toonsettings en oorspronklike musiek gekombineer.
Dit was 'n kultuuraand van intense emosies oor die hele spektrum. Baard se musikale vertolking van Visser se gedigte het 'n ekstra dimensie aan sy woorde gegee. Kruger het ook van sy eie gedigte gesing, en tussendeur het sy humor die gehoor laat skaterlag, terwyl Visser se voorlesing van sy gedig "Violet" die trane laat rol het.
Hannes Visser en Stef Kruger. Foto's: Sanjay Lalwani
Wat egter die grootste rol gespeel het, was waardering - waardering vir kunstenaars wat nie net nuwe lewe in Afrikaans blaas nie, maar 'n mens opnuut laat besef hoe kosbaar oorspronklike Afrikaanse literatuur is.
Baard het vertel dat sy tydens die toonsettingsproses as't ware saam met die musiek dig. Sy voel die gedig uit en sing daarmee totdat dit met haar begin praat.
Digbundels
Ontrafel is Kruger, 'n bekende liedjieskrywer, se eerste digbundel. Dit bevat 70 gedigte, wat hy sy 'skryfsels' noem, elk vergesel van 'n ontleding wat die gedig vir die leser 'ontrafel'. Hy beplan om voor sy 70ste verjaardag, wat oor drie jaar is, nog twee bundels, Gestroop en Ontbloot, uit te bring.
Stef Kruger het sy eerste digbundel, Ontrafel, bekendgestel.
Visser, joernalis en oudredakteur van die Oudtshoorn Courant, het pas sy tweede digbundel, Tussen Asem, uitgegee. Die inspirasie het gekom uit woorde van sy terminale siek vriend Lourens Oosthuizen oor die mens se eerste en laaste asem.
Die bundel volg dié lewensreis in drie afdelings: Eerste Asem, Asemhaal en Laaste Asem.
Hannes Visser se tweede digbundel, Tussen Asem.
Die hoop is dat kunstenaars soos Kruger, Visser en Baard met produksies soos Asem ook 'n jonger geslag sal inspireer om aan te hou skryf, dig en toonset, sodat oorspronklike Afrikaanse woordkuns kan aanhou floreer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’