GEORGE NEWS - Die SWD o.20-rugbyspan het Saterdagmiddag vir 'n tuis halfeindstryd gekwalifiseer deur die Valke op die Bosman-stadion in Brakpan met 35-33 te klop.
SWD, wat 10 uit 13 wedstryde gewen het, is tweede op die punteleer met 49 punte en 'n punteverskil van (60).
Die wedstryd is in bloedige hitte gespeel en daar moes waterbreuke na elke 20 minute gegee word.
Die plan van die afrigters was om op 'n ontsettende hoë tempo te begin en dit het uitstekend gewerk.
Na 20 minute was die Jong Arende reeds met 20-0 voor en het die Valke nie geweet wat hul getref het nie.
Na die waterbreuk het die manne van Brakpan teruggeveg en met rustyd was die telling 27-12 met die bonuspuntdrie reeds in die sakkie van die Arende.
Die laaste 40 minute moes die span se karakter hul help veg teen die lugdruk. Met vyf minute oor het die Valke voorgeloop met 33-32 en die Jong Arende het met vernuwe energie begin veg.
Met aanval op aanval het die Valke onkant gegaan en die vurige skrumskakel, Dillan Kerspay, het koelkop die bal deur die pale gejaag vir 'n welverdiende oorwinning.
Die glibberige Ayden Josephs het vir die Jong Arende puik spel op losskakel gelewer.
Kerspay is ook aangewys as speler van die wedstryd. Ayden Josephs (losskakel) het agterlangs die oog gevang.
Voorlangs het John Graham Botha (flank) en Denvir Prins (vaskopstut) weereens 'n barshou gespeel.
"Ek gaan Vrydagmiddag (môre) wanneer ons in ons laaste ligawedstryd teen Grens op Outeniquapark speel, 'n paar manne ruskans gee," het Eddie Myners, hoofafrigter, na die wedstryd aan die George Herald gesê.
Lithemba Mpoli (regtervleuel) het twee drieë teen die Valke gedruk en sy span gehelp om dié kragmeting in Brakpan met 35-33 te wen.
Puntemakers:
SWD o.20 35(27): Drieë - Lithemba Mpoli (regtervleuel, 2), Denver Prins (vaskopstut), Ayden Josephs (losskakel), Jaywin Petersen (linkervleuel). Ronaldo Jansen (heelagter slaag met 2 doelskoppe en 'n strafdoel en Dillan Kerspay (skrumskakel) klits ook 'n strafdoel oor.
ARTIKEL EN FOTO'S: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD SPORT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'