TUINROETE NUUS - Heidelberg het Saterdagmiddag op hul tuisveld weer vir 'n groot skok in die SWD Premierliga-rugbykompetisie gesorg toe hulle die gedugte Crusaders van George met 'n volpunte oorwinning van 27-23 geklop het.
Heidelberg, die nuwelinge in die kompetisie, het reeds met Barbarians en Silver Stars afgereken en is onoorwonne die seisoen.
Die wenspan is na drie wedstryde in vierde posisie op die puntetabel met 13 punte.
Crusaders, met hul oud-Arende-stutte, Dean Hopp en Layle Delo en Freginald Africa (agtsteman) aan die spits, het in die eerste helfte baie druk op die tuisspan geplaas in die skrums. Rustyd was die besoekers met 13-5 voor.
Heidelberg het in die tweede helfte die bal wyd gespeel en drie pragdrieë gedruk. Voorlangs het hul bulslotte, Lyndin Hartnick en Simon du Toit, en stutte Royden Hendricks (kaptein) en Marsellino Manhoe die vonk verskaf.
Jason Liebenberg (losskakel) het in die aanval en verdediging geskitter. Hy is 'n talentvolle speler wat nog diep spore kan trap in SWD-rugby. Corbin Swartbooi (heelagter) het ook die oog gevang.
Vir die wenspan is Chris Michaels (haker), Liebenberg, Andries Manho (buitesenter) en Du Toit oor vir drieë. Swartbooi slaag met 2 doelskoppe en 'n strafdoel.
Progress het nege pragdrieë gedruk in hul oortuigende oorwinning van 55-24 oor Silver Stars op die Rosemoor-sportterrein.
Die verdedigende kampioen is nog bo-aan die punteleer met 24 punte.
Ethan Williams (buitesenter,2), Fizel Fredericks (linkervleuel), Oswill Nortje (skrumskakel, 2) Wendell Pondo (agtsteman), Solomon Manxodidi (flank) en Brianton Booysen (haker, 2) is oor vir drieë vir die wenspan. Fredericks klits ook 3 doelskoppe oor en Gladwill Jafta (losskakel) slaag ook met 2 doelskoppe.
Evergreens het die krane behoorlik oopgedraai deur vir Blanco op sy tuisveld met 41-0 te klop.
Vir die wenspan is Linden Rhoode (heelagter), Luciano James (regtervleuel), Marshall Boesak (buitesenter), Gideon Lambrecht (binnesenter), Eugene Barnard (vaskopstut), Emile Booysen (haker) en Francois Kemp (plaasvervanger- agtsteman) oor vir drieë. Leegan Moos (losskakel) slaag met 3 doelskoppe.
Barbarians het vir Maori's op die Heidedal-sportterrein met 34-18 getroef. Jerome Fillies (regtervleuel, 2), Shario Rosenkrantz (buitesenter), Luwayne Fortuin (slot), Jose Petersen (plaasvervanger-vleuel) het vir die wenspan gaan druk. Wahlon Anthony (heelagter) slaag met 3 doelskoppe en Morné Buis (skrumskakel) klits 'n strafdoel oor.
Vir Maori's het Llewellyn Khani (loskopstut), en Marlon Frans (skrumskakel) gaan druk. Marshall Frans (losskakel) slaag met 'n doelskop en 2 strafdoele.
Groot-Brakrivier het op sy tuisveld vir Bridgton met 30-21 geklop. Vir die wenspan is Ezra Matroos (buitesenter, 2) en Marquin Smart (slot) oor vir drieë. Roshwin Abrahams (heelagter) slaag met 3 doelskoppe en 3 strafdoele.
Elgernon Waarts (slot) en Enzo Erasmus (plaasvervanger-stut, 2) het vir Bridgton gaan druk. Anver Venter (buitesenter) slaag met 3 doelskoppe.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'