RUGBY NUUS - Dit is 'n herontmoeting in die SWD Superliga A-eindstryd wanneer Groot-Brakrivier en Heidelberg mekaar vir die tweede jaar in 'n ry op Saterdag 14 September om 16:00 by Outeniquapark in George aanvat.
In 2023 het Groot-Brakrivier vir Heidelberg 31 - 25 in die eindstryd geklop en vanjaar s'n beloof om weer 'n kragmeting van formaat te wees wanneer dié twee koppe stamp voor 'n verwagte volgepakte stadion.
Oor die komende naweek se wedstryd sê Brak se ondervoorsitter, Imran Wesso: "Ons is verdedigende kampioene, so ons mentaliteit sal ingestel wees soos die van kampioene. Ons voete bly op die grond en geanker in ons Hemelse Meester.
"Ons onderskat nooit ons opponente nie, veral Heidelberg - wat in hul derde agtereenvolgende eindstryd speel - sal honger wees om die een deur te hak. Juis om hierdie rede sal ons geestelik ook sterk moet wees."
Heidelberg is ook reg vir die eindstryd en hul voorspelerafrigter, Fernell Pretorius, sê hulle berei al die hele seisoen voor vir hierdie wedstryd, want dit is een van hul doelwitte as span om in die eindstryd te speel en ook te wen.
"Ons is deeglik daarvan bewus teen wie ons hierdie naweek te staan kom. Ons huiswerk is gedoen, ons weet waar hulle sterkpunte lê en belangriker ook hul swakpunte. Ons is al vir maande besig om te beplan oor hoe om dit tot ons voordeel te gebruik," sê Pretorius.
Beide Brak en Heidelberg het hul ondersteuners aangemoedig om in groot getalle op te daag, want sonder hulle sal dit sukkel om die wa deur die drif te trek.
Wesso sê die span het hul ondersteuners meer nodig as wat hulle dalk mag dink. "Julle gee ons rede en daai ekstra motivering. Sonder julle is ons maar net 'n klompie spelers wat rugby gebruik om tyd om te kry. Julle gee betekenis aan die truie en ons moedig Groot-Brak se ondersteuners aan om in groot getalle op te daag en Outeniquapark swart, rooi en wit te maak," sê Wesso.
Pretorius het ook Heidelberg se ondersteuners aangemoedig om in groot getalle die wedstryd by te woon.
"Die trotse mense wat ons is, beteken ek weet ons ondersteuners gaan in hulle getalle opdaag om die spelers op die veld te laat weet dat hulle nie alleen in die stryd is nie. Ons as span onderneem om alles in ons vermoë te doen om die gewenste uitslag vir ons ondersteuners te bewerkstellig," sê Pretorius.
In die halfeindstryde het Groot-Brak vir Blanco 25 - 19 gewen en Heidelberg vir Bridgton 38 - 31. Beide wedstryde kon tot op die laaste minute nog enige kant toe gaan.
Toegang vir Saterdag
Kaartjies is R50 vir volwassenes, R20 vir kinders en R20 vir parkering.
Program
A-veld
- 09:00 Superliga B-spanne: Barbarians vs Heidelberg
- 10:30 Eersteliga-Oos en Wes A-Spanne: Riversdal Dorp vs Bitou
- 12:15 Eersteliga A-spanne: Happy Hearts vs Silver Stars
- 14:00 Groot Uitdaag A-spanne: Evergreens vs Harlequins
- 16:00 Superliga A-spanne: Groot-Brakrivier vs Heidelberg
B-veld
- 08:30 Eersteliga-Oos en Wes B-spanne: MSB Titans vs Bitou
- 10:00 Groot Uitdaag C-spanne: Evergreens vs Maori's
- 11:30 Groot Uitdaag B-spanne: Evergreens vs Harlequins
- 13:00 Superliga C-spanne: Groot-Brakrivier vs Barbarians
- 14:30 Eersteliga B-spanne: All Blacks vs Silver Stars
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’