GEORGE RUGBYNUUS - In twee huishoudings in die George-gebied is Saterdagmiddag, 5 Desember, vir twee verskillende internasionale rugbyspanne geskree.
Op 'n plaas net buite George het die Standers vir Ierland geskree en in die dorp het die Van der Merwes vir Skotland aangemoedig.
Dit was te verstane, want een van Ierland se sleutelspelers, CJ Stander, se ouers boer net buite George en Duhan van der Merwe, wat vinnig besig is om sy merk vir Skotland te maak, se ouers woon in George. Beide Stander en Van der Merwe kom oorspronklik van hier.
Jannie Stander, CJ se pa, het Maandag gesê hy was in twee geskeur. "Ons manne was mos in beide spanne. Uiteindelik moes 'n span wen en Ierland het toe." Skotland is 31-16 geklop.
In een stadium was Jannie nogal bekommerd toe juis Van der Merwe 'n baie goeie drie gaan druk het. Die drie is verdoel deur Jaco van der Walt wat ook van Suid-Afrika kom.
"Toe Duhan die drie gaan druk, sê ek vir vir my vrou - Amanda, hier is probleme."
Alhan van der Merwe, Duhan se pa, het gesê die familie is baie trots op hom. "Hy geniet sy rugby in Skotland en is gelukkig daar."
Duhan is intussen deur die Skotse span genomineer as speler van die Autumn Nations Cup. Hy ding mee teen drie ander spelers.
Jannie en CJ Stander
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'