GEORGE NUUS - Vir Johnry Grimes (10) was Saterdag 23 April 'n wonderlike hoogtepunt toe hy as gelukbringer vir die Kwaggas se eerste rugbyspan voor die skare op die veld uitgedraf het vir hulle wedstryd teen Hoërskool Durbanville.
Hulle het die wedstryd toe ingepalm met 'n eindtelling van 47 - 7.
Johnry, wat vir Laerskool George-Suid se o.11 A-span speel, se pa, Henry is 'n oudspeler en -afrigter van die SWD Arende. Pa en seun deel 'n ongelooflike passie vir rugby.
Die twee het ongeveer 'n jaar gelede 'n vreesaanjaende ervaring gehad toe hulle nouliks aan die dood ontkom het. Johnry het saam met sy pa gery toe hulle voertuig in 'n massiewe sinkgat in Heriotstraat beland het.
Die gat het ontstaan weens 'n breuk in 'n hoofwaterpyp tussen die Tuinroetedam en die watersuiweringswerke.
Hulle was uiters getraumatiseer nadat hulle uit die sinkende voertuig moes ontsnap en uitgeswem het.
Grimes (sr.) het al diep spore in George-rugby getrap. Hy het oor die 100 wedstryde as slot vir die SWD Arende gespeel. In 2018, toe hy die span afgerig het, het hulle die Eerste Divisie Curriebeker verower.
Grimes is deesdae die Kwaggas se eerstespanafrigter en is ook by die George-rugbyklub betrokke.
'Ons bring jou die nuutste George, Garden Route news'