RUGBY NUUS - Dit was 'n naelbyt eindstryd in die SWD Uitdaagbeker toe Pacaltsdorp se Evergreens vir Harlequins van Oudtshoorn op Saterdag 14 September met 31 - 22 by Outeniquapark geklop het. Tot in die laaste minuut nog kon die wedstryd enige kant toe gegaan het.
"Dit is 'n merkwaardige prestasie in die sin dat ons na die eerste ronde nie die Top-8 kon haal nie, wat ongehoord vir 'n klub soos Evergreens is, met 'n ryke geskiedenis in die SWD Premierliga, waar ons nog altyd die laaste paar jare ten minste in die halfeindstryd gespeel het.
"Die oorwinning sal dien as maatstaf en platform om in 2025 die momentum te hê om goed te doen.
"Vir ons spelers en afrigters is dit ook 'n bewys dat hulle goed genoeg is, asook vir ons ondersteuners en borge, dat terugslae ook net 'n vorm van selfondersoek is," sê Deon Stoffels, voorsitter van Evergreens.
Stoffels sê ook die klub is "absoluut trots" op die spelers se prestasie. "Vandag is hulle rolmodelle juis omdat hulle die tweede ronde so positief benader het, kopgehou het en enduit geveg het," sê hy.
Al drie Evergreens se spanne het hul eindstryde gewen.
Vir Stoffels was dit 'n harde wedstryd teen Harlequins wat hard geveg het vir die wen.
"'n Eindstryd is altyd 'n gelyke speelveld en ons het geweet dat 'n span soos Harlequins, wat verlede jaar op Outeniqpark 'n finaal gewen het, 'n groot aanslag sou bring, wat hulle wel gedoen het.
"Maar ons spelers se ervaring en wedstrydtemperament het die deurslag vir die oorwinning gegee, ten spyte van die opponente se verbete aanslag," sê hy.
Die hoof van afrigters vir Harlequins, Irvin van Wyk, sê hy voel hulle het goed presteer aangesien hulle hul laaste ligawedstryd teen Evergreens 50 - 12 verloor het.
Evergreens se Zavien Klaasen en Charles Jacobs van die Harlequins, kort na Evergreens 'n drie gedruk het.
"Aan die einde van die dag kon ons druk plaas, maar ons kon nie afrond of die druk in punte omskep nie en wanneer hulle in ons gebied was het hulle hul punte gevat. Natuurlik kon ons ook die wedstryd gewen het in daai laaste minuut, maar ons kon dit ongelukkig nie maak nie. Evergreens, op die dag, was 'n beter span en 'n mens kan vir hulle net sê geluk," sê Van Wyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’