RUGBY NUUS - Evergreens se A-span loop breë bors rond nadat die span verlede Saterdag, 1 Julie, Crusaders die loef afgesteek het. Die eindtelling was 25 - 19.
Die klipharde wedstryd is op die Parkdene-sportterrein gespeel en net soos ander jare het dit 'n groot skare gelok. Die tradisionele stryd tussen die twee topspanne kom al 'n lang pad en vir baie mense is dit soos 'n noord/suid stryd. Die wedstryd is in goeie gees gespeel.
Crusaders se B- en C-spanne het egter die klub se naam hoog gehou en onderskeidelik 29 - 9 en 20 - 19 gewen.
Kobie Carelse, voorsitter van Evergreens, het Dinsdag gesê die A-span se wedstryd, was 'n mooi maar harde wedstryd.
Hy het Evergreens se sukses aan 'n spanpoging toegeskryf. "Die spelers was positief ingestel en dinge het mooi in plek geval."
Jade Stoffels van Evergreens beur vorentoe, terwyl twee spelers van Crusaders hom probeer keer.
Boonop het Jade Stoffels, 'n senter wat gewoonlik as stelskopper instaan, sy skopskoen aangehad.
Die span kyk reeds na sy volgende wedstryd wat Saterdag 8 Julie teen Maori's plaasvind. Gelukkig loop die beseringspook nie in die span.
Ebrahim America wat die wedstryd deur sy kameralens dopgehou het, het gesê die eerste helfte van die A-span se wedstryd was baie takties. Crusaders het baie ongedwonge foute gemaak.
Crusaders het in die laaste deel van die tweede helfte teruggeveg, maar dit was ongelukkig te laat.
Volgens hom domineer Crusaders se voorspelers gewoonlik, maar Saterdag was die teendeel waar. Evergreens was in beheer.
Gavin Muller, hoof- uitvoerende beampte van Crusaders se C-span, het gesê die wedstryd tussen die A-spanne was van die begin af moeilik. Beide spanne het tydens die wedstryd agter die doellyn gaan kuier. "My indruk was dat Evergreens meer honger was om te wen. Die B- en C-spanne van Crusaders het wel gewen.
"Die C-span van Crusaders was rustyd nog 5 - 6 agter."
In die tweede helfte het Crusaders 'n kwaai terugvegpoging begin. Van die senior spelers het hul kant gebring.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'