Al drie dié klubs het vyf bonuspunte ingesamel, maar die groot verloorder was die Crusaders wat van die derde plek na vyfde afgeskuif het ná sy nederlaag met 29-24 teen Bonnievale. Crusaders het nou 16 punte, twee agter Barbarians (18) wat vierde op die punteleer lê. Barbarians het ook 'n vyfpunter ingesamel.
Progress het in Oudtshoorn mooi kop gehou en Bridgton met 27-18 geklop. Laasgenoemde lê nou sewende op 12 punte. Ever-greens, daarenteen, het behoorlik spiere gebult en Uniondale met 54-7 afgeslag.
Die drie topspanne in die Premierliga gaan mekaar nou jaag en met al drie wat die komende naweek redelik maklike wedstryde het, behoort die punteleer nie te verander nie. Evergreens sal moet hoop dat nie een van Progress of Bonnievale volpunte insamel nie, want hy is die een wat moet opvang. Al verdien hy die naweek teen All Blacks, wat tans tweede laaste op die punteleer lê, vyf punte sal hy nie die twee voorlopers verbysteek nie.
Progress speel op sy tuisveld in Rosemoor teen Silver Stars, maar hy kan hom voorberei vir 'n taaie. Hoewel Silver Stars tans in die agtste plek is, het hy gesukkel om All Blacks verlede Saterdag met 11-10 te klop. Tegnies behoort Progress maklik hier te seëvier, maar die geskiedenis het al geleer dat waar twee tuisspanne mekaar aandurf, daar nie iets soos 'n maklike wedstryd is nie.
Bonnievale speel in Blanco teen die tuisspan, Blanco het met 47-30 teen Groot-Brak verloor en sal beslis oorgehaal wees om voor sy tuisskare op te maak. Tog speel die Bonnievalers vanjaar uitstekende rugby en sal dit knor om die besoekers met die kous oor die kop huis toe te stuur.
Crusaders speel in Parkdene teen Bridgton en hy sal beslis wil vergoed vir sy ne-derlaag teen Bonnievale. Om in die wedloop te bly, sal Crusaders verkieslik met volpunte moet wen anders gaan hy in sy oorblywende wedstryde onder groot druk wees.
Maar die grote is op 31 Mei wanneer Ever-greens en Progress mekaar in die Pacaltsdorp-stadion pak. Dagboek dit nou: in dié derby gaan die hare waai, want die wenner hier gaan waarskynlik vanjaar met die Premierliga-titel wegstap.
Al die wedstryde begin om 16:00.
FOTOGALERY
Silver Stars se Virgill Lourens maak gereed om die bal uit te gee net voordat hy vasgevat word.
ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-SPORTREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'