RUGBY NUUS - Die vier voorlopers in die SWD Superliga het die afgelope naweek hul veldtog in die Top 8-kompetisie op 'n hoë noot afgeskop deur al vier met hul oorwinnings vyfpunters te behaal.
Evergreens gee die pas aan in die Top 8 met 31 punte met Heidelberg wat in die tweede plek in sy nek blaas met 30 punte.
Progress lê derde met 28 punte en vierde is Bridgton, ook met 28 punte.
Crusaders se 20 punte plaas hom in die vyfde plek gevolg deur Barbarians (18) sesde, Blanco (13) sewende en Groot-Brakrivier agtste (9).
Die vier spanne onderaan die punteleer sal nou moet uithaal en wys, maar dit gaan sukkel om die voor-lopers in te haal.
Crusaders kan nog dalk 'n haas uit 'n hoed pluk, maar met agt punte agter Bridgton sal dit werklik 'n bomenslike poging verg om die gaping uit te wis. Hulle pak mekaar juis die komende Saterdag in Parkdene, maar op grond van hul vertoning tot dusver vanjaar is die kragmeting vir Crusaders dalk "'n bridge too far."
Daar is nog vyf kragmetings in die Top 8-kompetisie wat voorlê en die pad gaan al steiler raak vir die agterosse.
Groot-Brak pak Heidelberg wel die naweek op sy tuisveld, maar of hulle genoeg skietgoed het om die besoekers vas te vat, staan te besien. Wen hulle, sal dit ongetwyfeld die verrassing van die seisoen wees.
Evergreens, met sy bulagttal, gaan veels te sterk wees vir Blanco al speel hulle in die Gaatjie. Pacaltsdorp se spogspan lyk vanjaar onstuitbaar en bitter min spanne in dié kompetisie sal hulle kan vaspen.
Progress behoort opgewasse te wees vir sy kragmeting teen Barbarians in Mosselbaai hoewel die tuisspan beslis stewige weerstand gaan bied en nie sommer maklik omgerol gaan word nie.
Só lyk die naweek se rugbyprogram in die SWD se Top 8-kompetisie:
• Barbarians teen Progress in Mosselbaai.
• Crusaders teen Bridgton in Parkdene.
• Blanco teen Evergreens in Blanco.
• Groot-Brakrivier teen Heidelberg in Groot-Brak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’